Aand by die Opera saam met Kevin Leo
Die gewilde Suid-Afrikaanse tenoor, Kevin Leo, het Saterdagaand 1 Junie as gaskunstenaar die dertiende verjaarsdag van die KunsteGrot in Thabazimbi kom vier.
Die aand se vermaak, wat ’n vingerete ingesluit het, is stewig afgeskop met Kevin Leo wat die gehoor saam met hom op sy reis met “Juweeltjies op my Pad” geneem het.
Die juweeltjies het heelwat Italiaanse opera areas ingesluit en geen wonder nie, Kevin Leo, een van die voormalige Suid-Afrikaanse Drie Tenore met Danie Nieuhaus en Matthys Roets die ander twee, kan maar opera sing.

Kevin, wat ook maar op ’n myndorpie grootgeword het, sê dat sy aanvanklik musiekloopbaan het hy as pop-ster met geen formele sangopleiding begin. Namate hy ouer geword het, het hy besef dat sy stem eintlik meer tot die klassieke leun en het hy dit na Italië geneem waar hy onmiddellik as Italiaanse tenoor aanvaar is. Hy is juis weer oor ’n paar weke op pad terug na Italië waar hy weereens sy stem tydens ’n kompetisie gaan laat hoor.
Gaste is Saterdagaand toe op twee “Drinking Songs” getrakteer. Die een uit die La Traviata asook die een uit The Student Prince. Laasgenoemde is deur Mario Lanza, die tenoor wat daarvoor befaamd was dat sy stem glase in skerwe laat spat het, in die fliek met dieselfde naam op die top twintigs geplaas.

Die aand, met sy Italiaans tema wat jou knussig in jou stoel laat wegsink het net soos Italiaans maar kan, is afgewissel met ander juweeltjies soos Elvis Presley se Its Now or Never, maar net nog ’n variasie uit die opera, Frank Sinatra se I did it My Way, Gé Korstem se Liefling en nog ’n paar wat groot byval en reaksie in die gehoor ontlok het.

Kevin Leo het op versoek, afgesluit met die lied wat deur Pavarotti op die treffersparade geplaas is, die Nessum Dorma area uit Puccini se opera met dieselfde naam. Anders as ander kunstenaars wat hierdie besondere oorwinningslied al in die KunsteGrot gesing het, het Kevin dit sonder enige begeleiding aangepak.
Dit was net Kevin Leo, sy stem en ’n baie waarderende gehoor in die KunsteGrot. Na so ’n genotvolle aand hoop mens dat Kevin Leo in die toekoms steeds ’n plekkie vir Thabazimbi se KunsteGrot sal oophou.
Magriet Erasmus saam met sus Annemarie Potgieter en skoonsus Alda Erasmus.