Entertainment

Keelvol – ’n Bittersoet Komedie vir die vroeë Herfs

KunsteGrot-gangers kan hulle gereedmaak vir ’n heerlike “Bitter-Soet” Komedie met Keelvol wat die gehoor se ore, lagspiere, traankliere en hart sal aanraak.

Die vertoning is op Saterdag 4 Mei en beplan nou reeds om ook daar te wees.

Twee bekende akteurs van die sepie Binnelanders naamlik Germandt Geldenhuis, beter bekend as Louis Koster in Binnelanders en Je-ani Swiegelaar, beter bekend as Naomi Ferreira in Binnelanders, vertolk die rolle van onderskeidelik Dirk Havenga en Mariëtte Labuschagne in Keelvol.

Dirk Havenga is die nuwe sang- en musiekonderwyser op die dorp. Hy het ’n terugslag as musikant in die stad beleef en probeer nou sy heil op die platteland vind. Hy is metodies, passievol oor musiek en versteek homself agter ’n gordyn van sarkasme en harde werk.

Mariëtte Labuschagne werk in ’n boekwinkel op dieselfde dorp en droom oor ’n loopbaan op die verhoog. Sy wil net sing en “perform”. Sy is spontaan, lewenslustig en altyd gereed met ’n grappie of ’n storie . . . en sy is gereed vir haar eerste sangles – ’n kombinasie wat dalk die resep vir ’n ramp kan wees – of dalk iets wat beide nodig het.

Kom kyk gerus en ontspan in die wonderwêreld van Teater waar jou sorge verdwyn soos jy dieper wegsink in die betowerende toneel wat om jou ontvou.

As jy nog nie teater beleef het nie, moenie dat hierdie kans jou verbygaan met twee talentvolle akteurs wat jy reeds talle male in jou sitkamer onthaal het. Kom ontmoet hulle in hierdie wonderwêreld waarin jy hulle reeds leer ken het.

Die storie, musiek, stemme en drome wat voor jou saamgeweef word sal jou laat besef hoe belangrik dit is dat ook jy jou eie stem moet vind in ’n wêreld wat jou soms wil stilmaak.

Toegang is R150 per persoon en jy is welkom om jou piekniekmandjie te pak en heerlik saam te kuier terwyl die toneel voor jou oë afspeel. Dit is die prys van ‘n goedkoop bottel brandewyn! – (Pak die klippies en wyn ook in jou piekniekmandjie en kom geniet dit saam met die vertoning)

Vir besprekings kontak Rita by 083 744 8559 en kom skop hierdie tweede kwartaal van die jaar af met genotvolle, sielverrykende vermaak.