Suksesvolle Vakansietoere vir 1ste Netbalspan
Die Eerste Netbalspan van Hoërskool Frikkie Meyer het hulle vakansieaktiwiteite afgeskop met ’n afrigtingskursus by Sun City.
Die kursus is vanaf 18 tot 22 Maart aangebied waartydens hulle goeie afrigting ontvang het.

Daar is gelet op individuele spel-ontwikkeling van die spelers. Hierdie ondervinding moes dan saans tydens oefenwedstryde aangewend word in hul speltegnieke en -patrone.
Gedurende die kursus het HFM sewe wedstryde gespeel waarvan hulle vyf wen en twee verloor.
Volgens die afrigter, Martie Boshoff, was dit ’n harde maar uiters suksesvolle week.

‘n Eerste vir drie van die spelers was die vlug aan boord van Kulula vanaf Lanseria na die Kaap waar hulle aan die Netbaltoernooi by Paarl Gimnasium vanaf 26 tot 30 Maart deelgeneem het.
Hiermee saam is van die geleentheid gebruik gemaak om besoek aan die Hugenotemonument in Franschoek te bring en die Universiteit van Stellenbosch te besoek, asook om die straatjies van hierdie unieke studentedorp te verken.

Net so was die besoeke aan Bloubergstrand en die W&F Waterfront ’n absolute móét.
Tien spanne het aan die toernooi deelgeneem en die talle wedstryde wat gespeel is, het beslis waarde tot die spelers se spel bygevoeg.
Die ervaring wat hulle opgedoen het moes in verskeie situasies toegepas word. Hierdeur is druk op hulle toegepas om hulle hul eie talente en tekortkominge te leer ken en die druk te verwerk.

Die span wen ses van die nege wedstryde wat hulle gedurende die toernooi gespeel het.
Die laaste dag in die Kaap het hulle ’n kultuurinspuiting gekry met ’n besoek aan die Fairview Wyn- en Kaasplaas.
Die span bedank ook juffrou Sharné Janse van Rensburg vir haar harde werk asook ’n groot dankie aan diegene wat bygedra het en ouers wat geswoeg het om fondse in te samel om hierdie ervaring ’n werklikheid te maak.