Rocco se vertoning by die KunsteGrot nou 8 Maart

As een van Suid-Afrika se top vermaaklikheids kunstenaars is die klavierspeler Rocco de Villiers, geen onbekende as dit by die KunsteGrot op Thabazimbi kom nie.

Die aanvanklike datum skuif nou na Vrydag 8 Maart  aangesien 9 Maart bots met Hoërskool Frikkie Meyer se skuurdans. Moenie die geleentheid om Rocco se talentvolle vertoning by die KunsteGrot te geniet misloop nie.

Aan veelsydigheid ontbreek dit geensins nie en is Rocco ewe tuis op die verhoog of agter sy klavier voor die TV kameras. Dit spreek dan ook uit sy ongeveer 120 optredes, uitgesluit televisie en optredes as seremoniemeester, wat hy per jaar doen.

Dat Rocco flambojant is, is nie te betwis nie. Uitspattige kostuums op die verhoog, al is dit in ’n kortbroek met strikdas en formele baadjie, verseker Rocco dat sy vertoning beslis meer om die lyf, of laat ek dalk sê: Minder of Meer aan die lyf, het as wat net iemand wat kan klavierspeel.

Hy het beslis baie meer om te bied waar jy as teaterganger behoorlik betrek word om die aand saam met hom te geniet.
’n Meester van die klawers is Rocco beslis en hy geniet dit boonop baie om hierdie liefde en talent van hom met sy gehoor te deel.

Kom geniet die vertoning en bring sommer jou Engels-sprekende vriende saam. Musiek is universeel en Rocco het geen moeite om sy Brits ook op die verhoog uit te pak nie.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjie is steeds beskikbaar teen die weggeeprys van R160 per persoon. Dit vir ’n uitstekende kunstenaar waarvoor jy baie ver sal moet ry en baie meer moet betaal om sy vertoning in die voorwêreld te sien. Nooi eerder jou vriende uit die stad om die naweek saam met jou en Rocco hier in die bosveld te kuier.

Dit is die prys van twee bottels redelike goeie wyn of ’n bottel brandewyn, wat jy gerus ook maar in jou piekniekmandjie saam met jou verversings kan pak en die aand gesellig saam geniet. Baie minder as wat uiteindelik sal moet uithaal indien jy en Liefie saam gaan uiteet, dit sonder enige vermaak wat ingesluit is.

Besprekings kan gedoen word by Rita 083 744 8559 en maak seker om jou kaartjies betyds te betaal aangesien hierdie beslis een van die hoogtepunte so vroeg op die KunsteGrot se vermaaklikheids-kalender is.

2019 Plakkaat Rocco 9 Maart