Entertainment

Johan Anker bekoor by die KunsteGrot

Een van die opkomende sterre op die Suid-Afrikaanse musiek-horison het Saterdagaand ook sy verskyning op die KunsteGrot verhoog in Thabazimbi gedoen.

In die voorwêreld en diegene wat die Suid-Afrikaanse weergawe van die TV-program, “The Voice”, gevolg het, is Johan Anker reeds redelik bekend maar vir die Thabazimbi omgewing se mense was dit ’n verfrissende nuwe ervaring.

2019 Johan Anker Louise
Louise van Romburgh wat pas haar CD deur Johan laat teken het.

Nieteenstaande sy oorwegende klassieke opleiding as deel van die Drakensbergse Seunskoor en sy BA graad in drama wat hy in 2013 ontvang het, het hy ook sy eie liedjies wat beslis hul merk op die plaaslike treffersparades kan maak.

Johan sê dat hy reeds op die ouderdom van 9 jaar geweet het dat hy eendag ’n operasanger gaan word. Op hierdie ouderdom het hy dan ook reeds sang- en dramalesse ontvang, iets wat hom bietjie minder gewild onder medeleerlinge gemaak het.

Hy het egter vasgebyt nieteenstaande negatiewe gevoelens en is toe ook gekies om as lid van die bekende Drakensbergse Seunskoor, hierdie eksklusiewe skool te kon bywoon.

Met die vertoning was dit duidelik dat Gé Korsten ’n groot rol gespeel het in sy besluit om eendag ook ’n operasanger te word met “Liefling” wat hy aan die kunstenaar opgedra het.

Anders as ander tenore wat al in die KunsteGrot opgetree het, het hy reeds vroeg in sy optrede met die opera area “Nessun Dorma” area uit die Italiaanse opera Turandot van Puccini, afgeskop. In hierdie area sing Calaf, die onbekende prins, sy oorwinningslied toe hy besef het dat hy die drie raaisels kon oplos om Prinses Turandot, op wie hy verlief geraak het, se hand te wen. Nodeloos om te sê dat die hoendervleis uitgeslaan het met die eerste note van die lied. Hy het dit opgevolg met Josh Groban se “You raise me. up”.

Daarna het hy, nieteenstaande die warm weer, sy leerbaadjie aangetrek en weggespring met ’n paar bekende liedjies van Elvis Presley, Frank Sinatra, Bles Bridges, Steve Hofmeyr, asook Leonard Cohen se Halleluiah.

2019 Johan Anker Familie

Tussendeur het hy ook van sy eie komposisies gesing. Hier kan mens “Deel dit uit” wat beslis oor iets beskik om sy merk op die treffersparade te maak.

Johan het met ’n paar gewyde liedere, onder andere, “Hoe Groot is U” afgesluit.

Johan het beslis ’n redelike gevolg in Leeupoort Vakansiedorp met meeste van die teatergangers wat daarvandaan afkomstig was om hom te kom ondersteun.

Hierdie groepie mense het nou die KunsteGrot ervaar en ons sal hulle hopelik ook tydens toekomstige aanbiedinge in die KunsteGrot sien.

Johan sal beslis weer ’n draai op die KunsteGrot se verhoog maak. Moenie die kans verby laat gaan om hom te ervaar nie.

Foto links: Johan het van die geleentheid gebruik gemaak om bietjie by sy pa se suster, Annetjie Lampbrecht op Leeupoort te kuier. Saam met hulle op die foto voor is Lettie van der Walt.