Kommentaar – Kan Suid-Afrika hieruit iets leer?
Venezuela se opposisie-leier verklaar homself as interim President en sukkel nou om die doodskleed van Sosialisme af te skud,
Die leier van die opposisie-beheerde volksraad van Venezuela, Juan Guaido, het homself verlede week as die interim president van die land verklaar, slegs drie weke nadat hy ’n bepaling in die land se konstitusie gebruik het wat aan hom mag verleen het om die versmorende diktatorskap van die land se president, Nicolas Maduro, tot ’n einde te bring.
Maduro is verlede jaar vir ’n verdere ses-jaar termyn herkies en alhoewel hy die verkiesing as vry en geloofwaardig verklaar het, het internasionale waarnemers die wetlikheid daarvan bevraagteken.
Maduro het in 2013, na die dood van die populistiese president, Lt Kol Hugo Chavez, beheer oor die land oorgeneem.
Chavez het die presidentsverkiesing in 1998 gewen en met sy populistiese benadering dat die mag aan die mense teruggegee moet word, het hy die land met ’n ysterhand regeer en oproeriges dikwels deur sy eie “weermag”, die colectivos, sy politieke mag op ’n gewelddadige manier op hulle afgedwing, soms met erge lewensverlies.
Hierdie colectivos het naderhand soveel mag gehad dat hulle die polisiemag omver gewerp het. Hulle geledere is versterk deur kriminele opportuniste en kriminele aktiwiteite. Wetteloosheid het gefloreer en daarmee saam die aantal moorde wat gepleeg is.
President Nicolas Maduro het ‘n ekonomie wat aan flarde gelê het by Chavez oorgeneem. In ’n poging om mense om hom te skaar het hy die weermag beheer oor die winsgewende dwelm- en voedselhandel sowel as die goudmyne gegee.
Daar was nie meer geld om subsidies en welsyntoelaes te betaal nie en Maduro het eenvoudig net meer geld gedruk. Dit het inflasie die hoogte laat inskiet wat basiese goedere onbekostigbaar duur gemaak het. Boonop het hy prysbeheer ingestel en hy het ook die land se wisselkoers bepaal.
Ingevoerde artikels was onbekostigbaar en die sakesektor het tot stilstand gekom. Maduro het nog meer geld gedruk, wat die inflasiekoers verder laat styg het, kos het skaars geword en onrus het toegeneem.
Maduro het egter meer vrygewig geword met uitgifte wat hy nie kon bekostig nie en wat gelei het tot die totale ineenstorting van die Venezuela ekonomie – ’n ekonomie wat nie lank terug nie, onder ’n demokratiese regering, die sterkste ekonomie in Suid-Amerika was.
Met ’n inflasiekoers van sowat 700 persent is Venezuela se geld byna waardeloos. Die land het van die rykste oliereserwes maar voedselbeskikbaarheid is sodanig dat drie uit elke vier inwoners ’n gemiddelde jaarlikse gewigsverlies van sowat 7,5kg ondervind. Strate word gekenmerk deur swartmark bedrywighede en geweld en die moordsyfer in 2014 was gelykstaande aan die ongevallesyfer van burgerlikes tydens die geweld in Irak gedurende die 2004 oorlog.
Guaido het nie militêre hulp van die VSA summier van die hand gewys met die eskalerende politieke krisis in die land nie, maar het gesê dat die mense van Venezuela die diktatorskap van President Nicola Maduro ten alle koste wil beëindig.
Hy het verder gesê dat daar gepoog word om die soewereiniteit asook die vryheid en demokrasie van Venezuela in ere te herstel.
Die aankondiging van Guaido is deur reuse skare mense in die hoofstad asook deur verskeie wêreldleiers, insluitend die vise president van die Verenigde State, Mike Pence, verwelkom. Pence het dan ook in ’n video boodskap Guaido se dapper besluit gesteun.
Guaido het aan CNN gesê dat hy ’n oproep van die President van die Verenigde State, Donald Trump, ontvang het waarin Trump genoem het dat hy reeds met verskeie wêreldleiers hieroor in verbinding was.
Die 35-jarige Guaido het na Maduro se herverkiesing as onwettig verwys.
“Mnr Maduro se uurglas is besig om leeg te loop, maar om te verseker dat sy onttroning met die minimum geweld en bloedverlies gepaard gaan, sal almal in Venezuela moet verenig om ’n besliste einde aan sy heerskappy te bewerkstellig.”
Hy het reeds samespreking met weermag bevelvoerders gehad maar daar is nog geen positiewe plan om hulle steun aan Maduro te onttrek nie.
Hy het ’n beroep op die weermag gedoen om hulle aan die kant van die konstitusie te verenig, iets heeltemal anders as ’n militêre staatsgreep, met verwysing na Maduro se aantygings dat die Verenigde State ’n militêre staatsgreep in die land beplan.
Intussen het Guaido ’n oorgangsregering asook ’n vrye verkiesing in die vooruitsig gestel om ’n einde te maak aan die sosialistiese bewind van Maduro wat toegesien het hoe die eens welvarende land en ryk olie verskaffer in ’n totale ekonomiese ineenstorting en humanitêre krisis verval het.
Op ’n vraag aan Guaido of hy enige samesprekings met Maduro gevoer het, het hy net eenvoudig geantwoord: “Nee.”
Deur Pieter Coetzee – Bron CNN