AgriculturalBusiness

Boere verslae na uitbraak van Bek-en Klouseer in noorde van Limpopo

Agri SA het veeboere gewaarsku oor die uitbraak van bek-en-klouseer in Vhembe in die noorde van Limpopo. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ook aangekondig dat Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye status tydelik opgeskort is.

Die besmette gebiede is onder kwarantyn geplaas en geen beweging van diere en diereprodukte word toegelaat nie.

Limpopo se veeartsenykundige dienste het verdere toetse gedoen om die resultate te ontleed om die omvang van die uitbraak te bepaal waarna beheermaatreëls na aanleiding van die ondersoek in plek gestel sal word.

Die voorval is Maandag 7 Januarie 2019 by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid aangemeld.

TLU SA se Noordstreek het die nuus van die uitbraak met uiterste skok en magteloosheid begroet.

Die streeksvoorsitter van TLU SA, Henk van de Graaf, het gesê dat die Limpopo Dieregesondheid, waarin TLU SA ’n aktiewe rol speel, reeds die afgelope twee jaar gewaarsku is teen so ’n gebeurtenis en wat die invloed daarvan sal wees op die provinsie se landbou-ekonomie.

“Suid-Afrika het hard gewerk om weer ons bek-en-klouseer-vrye status terug te kry. Dis nou weer opgeskort en niemand sal kan sê wanneer die gebied weer vry verklaar sal word nie. Suid-Afrika verloor nie net sy bek-en-klouseer-vrye status nie, maar ook daardie klein segment op buitelandse winkelrakke.”

“Ander lande wat met ons om daardie segment meeding, sal dit opraap en dit gaan ons jare se tyd kos om weer daardie beperkte winkelrakspasie terug te kry. Dit kan selfs langer neem as om net die vrye-status terug te kry.”

Volgens die uitvoerende hoof van Afrivet, dr Peter Oberem, is bek-en-klouseer hoogs aansteeklik en kan maklik deur skoene, voertuie, mense en diere wat beweeg versprei word.

Boere van buite die gebied word verder aangeraai om bio-sekerheidsmaatreëls in ag te neem en nie nuwe diere in hul kuddes toe te laat nie en die beweging van hulle eie kudde na ander plase te verminder.

Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat lewende hawe affekteer met ’n beduidende ekonomiese impak. Die siekte raak beeste, varke, skape, bokke en ander diere met gesplete hoewe.

Tekens van bek-en-klouseer sluit in depressiewe diere en seker in die bek van diere wat maak dat die diere onwillig is om te eet.

AgriSA se Hoof van Natuurlike Hulpbronne, Janse Rabie, het boere gemaan om enige verdagte gevalle onmiddellik by hul plaaslike staatsveearts aan te meld.

Die siekte raak nie mense nie.