AfriSake: Wie is werklik aan bewind in Suid-Afrika, en met watter doel?

SAOf die ANC die land werklik regeer tot voordeel van al sy burgers, of uitsluitlik tot die voordeel van diegene wat politieke verbintenisse het om aan bewind te bly, bly ? onbeantwoorde vraag tydens die laaste paar dae van geweld wat ons in Tshwane gesien het. Terwyl politieke ekstremiste en politieke lojaliste hulle woede oor die nuwe burgemeesterskandidaat vir die Tshwane Metro uitdruk in wat slegs beskryf kan word as algehele anargie, word die meerderheid Suid-Afrikaners gelaat met meer vrae as antwoorde oor waarom die situasie toegelaat word om vir so lank voort te sleep. Dít is die mening van Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

Wat wel seker is, is dat die huidige ondersteuners van die ANC nie gewillig is om geboelie te word om ? leier te aanvaar wat hulle nie goedkeur nie; en met die komende munisipale verkiesings om die draai, moet die ANC ? moeilike balanseertoertjie doen. Aan die een kant probeer die ANC om sy interne politieke elite te paai, terwyl hy ook aan die ander kant die kiesers tevrede moet hou om aan bewind te kan bly.

In stede daarvan om ? regerende party te wees, lyk die ANC meer soos ? klub met lede waar vriende bevorder en binne reikafstand gehou word om welsyn en mag binne die party te verseker. Buitestanders of individue wat ? bedreiging vir die party se rykdom inhou, word “afgesny” en eenkant gehou, sodat daar ? beter vloei van beheer en mag kan wees oor swakker lede wat gewillig saam met die stroom gaan in die hoop dat hulle ook by die elite-span ingesluit sal word. Dit lei tot die verdere vraag: Is die huidige burgemeester van Tshwane, Kgosientso Ramokgopa, en sy adjunk Mapiti Matsena “afgesny” om plek te maak vir ? kandidaat wat dit makliker sal maak vir die ANC se interne elite om aan bewind te bly en hulle rykdom te behou? Dit kan heel moontlik die geval wees.

“Die chaos wat ons nou sien, moet ontstellend wees vir die ANC, of dit behoort ten minste so te wees, veral met die kiesers wat toon dat hulle sal stem vir opposisiepartye indien die ANC voortgaan op sy huidige pad van diktator-besluitneming. Ongeag die ANC se interne struwelinge, moes die party dringend optree om die anargie te stop wat nou heers. ? Regering aan bewind behoort nie met misdadigers te onderhandel nie, maar moet vinnig en kragdadig optree,” sê Greyling.

Nadat die presidensie Maandag verslag gedoen het oor die vordering van sy 9-punt plan om ekonomiese groei te stimuleer en werksgeleenthede te skep, het die geweld in Tshwane getoon dat die ANC eerder sy aandag op ander aspekte ook moes gefokus het, soos militêre veiligheid en wet en orde in die land. Indien dit die geval was, sou die wydverspreide geweld en skade regoor Tshwane óf vermy gewees het, óf ten minste vroeër opgelos gewees het.