Digitale Koerant en die gemeenskap

comment
Soos afgelei kan word uit die redaksionele kommentaar van verlede week, is ons in Suid-Afrika vinniger besig op pad na die digitale media, met antwoorde – papierlose koerante – as wat ons wil besef. In Kwêvoël se geval was dit die aksies van ’n dom president en sy kabinet gepaardgaande met vakbonde wat beheer oor die regering wil uitoefen deur langdurige stakings wat ons uiteindelik in hierdie rigting gedwing het.

Vir my as redakteur, eienaar en drukker van Kwêvoël was dit ’n persoonlike prestasie dat die Kwêvoël se kop so lank bo water gehou kon word. Self het ek ook maar hard geskop teen die mense wat gesê het dat die papier koerante gaan verdwyn. In Suid-Afrika is die skrif egter teen die muur.

Met ons vrot ekonomie word gedrukte publikasies ’n luukse. Ongelukkig word drukgehalte ingeboet om te verseker dat die publikasie op straat bly.

Die voordeel van die digitale uitgawe is dat, indien jy ’n papier uitdruk van ’n sekere beriggie verlang, jy slegs die PDF bladsy op ‘n geheue-stokkie hoef te laai en by een van die plekke wat A3 grootte afdrukke kan hanteer en uit te druk op paier. Jy kan hierdie uitdruk steeds vir jou plakboek gebruik.

Papier sal nog vir lank ’n rol in ons lewe speel. Ek self het nog nooit ’n digitale boek gelees nie. Ek hou van die gedrukte vorm.
Die koste van drukwerk het ook die koste van advertensieplasing vir die besighede laat toeneem. Dit, gesamentlik met die swak ekonomie, het baie besighede advertensie-sku geraak. Maar tog, hulle moet adverteer. Niemand koop ’n advertensieblad nie, tensy die publikasie se naam Auto Trader of so iets is wat jou geklassifiseerde advertensie gratis geplaas word. Dieselfde beleid word reeds vir jare by Kwêvoël ten opsigte van sekere geklassifiseerde advertensies toegepas. Die meeste mense wat van die gratis plasing gebruik gemaak het, gaan daardie spesifieke uitgawe teen ’n paar rand koop, net om seker te maak dat sy advertensie wel geplaas is.

’n Koerant word gewoonlik deur een persoon op ’n slag gelees buiten as dit ’n daaglikse- of Sondag-koerant is wat uit verskillende seksies bestaan. Die voordeel van die plaaslike koerant op die net is dat jy altyd deur die weke kan terugblaai indien daar ’n opvolg van ’n sekere gebeurtenis was waaroor jy meer agtergrond wil hê.

Laat weet ons steeds van dinge wat in en om julle gemeenskap gebeur. Ons neem dit verder.

Kommentaar: Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël