Reën bring uitkoms in omgewing

050713rain-620x413
THABAZIMBI – ‘n Geweldige wind het Saterdagaand oor die Thabazimbi omgewing gewoed en terselfdertyd ‘n neerslag van 25mm gelewer. Sedertdien het neerslae van sowat 20mm Dinsdagoggend geval wat opgevolg is deur deurdringende neerslae van 48mm wat sedert 04:45 Donderdagoggend aangemeld is.
Ter perse gaan het dit steeds gereën en die totale reënval tot dusvêr word op tussen 70 en meer as 90mm vir Thabazimbi vir die week sedert Saterdag 8 Januarie in die dorp en omgewing gereken.
Dwaalboom het maar weereens ietwat aan die agterspeen gesuig met slegs 5mm wat Saterdag en, 18mm wat Dinsdagoggend oor die gebied uitgesak het. Ter perse gaan het dit sedert Donderdagoggend sowat 10mm gereën.
Northam het Dinsdagoggend en Donderdagoggend neerslae van 35mm en 30mm onderskeidelik aangemeld. Koedoeskop het 30mm met Saterdag se reën, 30mm met Dinsdag se reën en vir Donderdag sovêr 20mm aangemeld.
Met neerslae so laat in die seisoen en, die dankbaarheid vir die reën, beteken nie dat die gevolge van die droogte uitgekanselleer is nie. Dit reën ongelukkig vir die boere nie mielies, koring en weiding vir hul vee nie en daar sal steeds ‘n tekort aan hierdie voedselsoorte wees, wat beslis tot prysstygings gaan lei.