Oorlede

23-Susan Oorlede
‘n Bekende inwoner van die Thabazimbi en Sentrumdistrik, Tannie Susan Roets, is op Saterdag 30 Mei oorlede. Sy sal onthou word vir haar positiewe geaardheid en haar onwrikbare geloof in haar Skepper. Sy was baie betrokke by die Sustersvereniging van die Gereformeerde Kerk Matlabas. Sy was ook baie nou betrokke by die SAVF waarvan sy ‘n aantal jare die Voorsitster was. Later jare was sy betrokke by die Vroue Landbou Unie.
Tannie Susan is op 22 November 1934 te Burgersdorp in die Karoo gebore. Sy word groot in Ermelo en matrikuleer aan die Hoerskool Ermelo in 1951. Nadat sy aan die Normaal Kollege Pretoria onderwys gestudeer het, begin sy met haar onderwysloopbaan in 1953 by Laerskool Groenvlei. (Sentrum). Vanaf 1955-1957 hou sy skool by Laerskool Machadodorp. Op 18 Januarie 1958 tree sy in die huwelik met Gert Roets, ‘n beesboer van Sentrum. Uit die huwelik is 3 kinders gebore en 8 kleinkinders.
Sy word vandag, 5 Junie, in die familiebegrafplaas op die plaas Blinkwater begrawe. Daarna sal die troosdiens volg uit die Gereformeerde Kerk Matlabas.