

Die vergadering is gehou met die oog op samewerking, dienslewering en om Thabazimbi voor te berei vir volgende jaar se plaaslike verkiesing. Die voorsitterforum voel dat die tyd verby is dat alle antwoorde summier aanvaar word en dat dit belangrik is dat die persone wat in posisies is, die werk kan en wil doen. Verder word die doeltreffende funksionering van Wyk 2 se wykskomitee verlang.
Die vergadering was dit eens dat die munisipaliteit se finansiële status ‘n groot bron van kommer is. Van der Walt het die rol van wykskomitees in ‘n munisipaliteit onderstreep en beklemtoon dat elkeen die reg het tot basiese dienste. Politieke inmenging in administrasie is egter een van die grootste probleme wat ondervind word.
Sy het ook die vergadering meegedeel dat Thabazimbi die enigste strategiese munisipaliteit vir die DA in Limpopo is en dat die raadslede hier is om die gemeenskap te dien.
Die volgende stappe wat die DA gaan neem is om meer skaduministers te nooi om die dorp te besoek, kriminele klagtes te lê waar dit van toepassing is en ‘n funksionerende wykskomitee saam te stel.
Almal wat die vergadering bygewoon het, het hulself verbind tot samewerking om Thabazimbi ‘n beter dorp te maak.
