Dwelms – die groot vrot

DrugsVoorskrif medisyne is gif. Dit is juis die rede dat dit deur ‘n dokter in beperkte hoeveelhede voorgeskryf word. Indien daar geen beheer daaroor is nie, raak jy daarvan afhanklik en al die newe effekte daaraan verbonde gaan jou uiteindelik doodmaak. Voorskrifmedisyne is ‘n groter probleem as die “street drugs”. Voorskrifmedisyne is nie so toeganklik vir jonger mense nie, want hulle is gesond en is in ‘n minder mate van voorskrifmedisyne afhanklik vir kwale wat kom soos mens ouer word. Dit is miskien die rede dat al hoe meer jong mense betrokke raak by “street drugs” soos Cat, Ecstasy, Cocaine, Heroin en die talle ander wat vrylik op die strate van ons dorpe en stede beskikbaar is. Thabazimbi en die ander dorpe in die omgewing is nie hiervan uitgesluit nie, die omvang is beslis groter as wat die meeste mense besef.
Dit is nie net meer die Nigeriërs wat die “dealers” is nie. Dit kan jou buurman of buurvrou of dié se kinders wees. Dit is baie makliker verkrygbaar, maar dit kom teen ‘n duur prys. Die verslawing kos geld en uiteindelik is jy as dwelmverslaafde maar net ‘n pion op die “dealer” se skaakbord. Die feit bly staan: Dwelms neem jou besluite. Die “dealer” stel net in jou geld belang want hy weet jy sal steel daarvoor. Hoe groter vriend hy van jou word, hoe groter sy inkomste.
Dit is tog so maklik om daarmee te begin. Met Kokaïne in jou lyf is jy die siel van die partytjie. Met Ecstacy beleef jy alles so intens en is jy die seksieste persoon. Cat gee jou daai dryfkrag dat jy slaap as oorbodig sien, Tik vir die gewigsverlies wat daarmee gepaard gaan, en daarby goed laat voel ook. So gaan die lys aan.
Dit is glad nie ongewoon dat jou “dealer” uit die “goedheid” van sy hart vir jou bietjie uithelp om goed te voel nie. Hy weet jou skuld bou op en dit is dan wanneer jy begin steel. Hy lieg vir jou aanmekaar, net soos jy vir almal wat jy besteel begin lieg. Die “dealer” stel net in geld belang – dit is sy enigste belangstelling in jou.
Jou familie is gewoonlik eerste op die lys. Daardie R200 wat in die boonste laaitjie van ma se bedkassie weggesteek is, het jy lank al voordat sy dit agtergekom het dat dit weg is, deur jou neusgate opgesnuif. So ook die Geld uit die beursie van die tannie by die werk wat jy gaan leegmaak het toe niemand kyk nie, of as vertroueling by ‘n besigheid jou lang vingers in die geldlaai druk.
Almal wat hoef te weet, weet presies wie die dealers is. Hulle word nie uitgehaal nie want die verskoning is dat dit nie help om een dealer uit te haal nie, sy plek word vinnig weer deur ‘n ander een gevul. Dit is die groter sindikate wat uitgehaal moet word.
Dit gebeur baie min en intussen lei baie mense geldelike verliese deur dwelmverslaafdes, mense wat na aan jou is; jou kinders, werknemer, jou beste vriend, wat jou besteel. Gaan eerder na die polisie dat hulle die “dealer” kan uithaal.
Ongelukkig het dwelmverslawing baie newe effekte soos sg “Flashbacks”, versteurde slaappatrone, naarheid, warm gloede, aggressie, hallusinasies, “mood swings”, spierspasma’s wat jou soos ‘n marionette laat ruk, angstigheid, hart en bloedvatprobleme en die ergste van alles: depressie wat kan lei tot selfdood.
Is dit op die einde die moeite werd? Net om ‘n “dealer” te verryk?
Wys eerder jou dealer uit en besef dat die pad na rehabilitasie moeilike en steil voor jou uitlê. Jy kan rehabiliteer. Ongelukkig kan niemand dit vir jou doen nie, jyself moet dit doen.
As jy nie nou stop nie, gaan jy in die tronk beland, hetsy as gevolg van diefstal of die besit van verbode dwelms. Daar is meer dwelms in die tronke beskikbaar as buite. Jy kan dus jouself daar gaan geniet en stadig weg vrot.