Van 100 tot zero in 20 jaar

Die jaar is bykans op sy einde met party van ons lesers wat reeds terug is van hul week of twee vakansie by die see. Die matrieks is seker ook al weer tuis na hul Jols op Margate en Plettenberbaai.
Met beurtkrag wat so op ons afgedwing word, kan julle nie glo nie – ek tik hierdie kommentaar met die kers wat lang my brand om bietjie lig op die sleutelbord te gooi. Ek tik darem met meer as twee vingers, maar om dit blindelings te doen gaan ek meer soen as sien. Diegene wat nie weet waar die toetse op die sleutelbord is nie, die o en i is langsmekaar – kan nogal ‘n verleentheid wees as jy byvoorbeeld dekking aan die EFF-optog (wat weereens laat is vir hul eie optog), moet verleen en jy stuur vir jou baas die boodskap: “Nog niemand gesoen nie, ek kom maar terug kantoor toe.”
Dit was ‘n moeilike jaar vir almal in ons omgewing. Eers was daar die verlammende staking by die Platinamyne. Alhoewel die myne in Rustenburg hoofsaaklik geraak is, was plaaslike produksie van Platina baie laag en is daar swaar op reserwes gesteun. Alle mynbedrywe is afgeskaal en baie kontrakteurs wat darem nog ‘n bestaan kon maak moes uiteindelik ook maar die handdoek ingooi ter wille van oorlewing. Myners wat steeds opgedaag het vir werk kon nie hul doelwitte bereik deur genoeg erts te lewer nie. Al hierdie faktore het ook Thabazimbi en omgewing ‘n groot finansiële knou toegedien.
Die volgende was die Poskantoorstaking wat steeds sleepvoet herstel. Baie besighede is afhanklik van die posdiens om plaaslike bestellings na te kan kom. Deur koerierdienste te gebruik, kos soveel meer op kleiner items, iets waarvoor die kliënt nie die koste wil dra nie.
En nou – die laaste stukkie strooi wat die kameel se rug kan laat knak. Die onvoorspelbare beurtkrag wat reeds in sy fase 3 stadium is waar die krag net eenvoudig afgaan om eers 13 uur later aan te kom. Die geagte vorige Eskom-Hoof, mnr Dames is ‘n paar maande gelede weg nadat sy kontrak verstryk het. Dit nogal met ‘n stewing goue handdruk van R22 miljoen. Die rede hiervoor: Gedurende sy bestuurstermyn is beurtkrag nie toegepas nie.
Die ongeluk hieraan verbonde is dat hy as hoof nie toegesien het dat instandhoudingswerk toegepas word nie, en dat alle kragstasies optimaal kan krag lewer wanneer die vraag opduik. Die krake in die silo’s is lankal reeds raakgesien, maar nie hoër op gerapporteer nie – seker om sy rekord skoon te hou.
Onderhoud en instandhouding van die bestaande infrastruktuur is van die uiterste belang in dienslewering. Het die ANC werklik gedink dat die water sal bly vloei en dat daar nooit kragonderbrekings sal wees deur nie die toerusting in stand te hou nie, of is hulle dalk kwaad vir die vorige regime omdat hulle nie nuwe toerusting ge-erf het nie.
Punt bly egter staan. Die ANC het ‘n land oorgeneem met die hoogste ontwikkelde infrastruktuur in Afrika. Binne 20 jaar het hulle dit vernietig. Daar is nie eens meer spore tussen stasies nie – alles gesteel en as skroot verkoop.
Die krake is reeds lank en diep, en dit gaan nie lank wees voordat die hele infrastruktuur-silo ook ineenstort nie.