Joseph and the amazing cast van HFM

Op die foto is vlnr: Henco Smith, Dirk Coetzee (Joseph), Lana Senekal (Verteller), Mariaan Senekal en Colin Campbell (Skoolhoof), waartydens spesiale ruikers aan Henco en Mariaan, as organiseerders van die produksie oorhandig is.
Op die foto is vlnr: Henco Smith, Dirk Coetzee (Joseph), Lana Senekal (Verteller), Mariaan Senekal en Colin Campbell (Skoolhoof), waartydens spesiale ruikers aan Henco en Mariaan, as organiseerders van die produksie oorhandig is.

THABAZIMBI – Die “Revue” groep van Hoërskool Frikkie Meyer het verlede week die gemeenskap verras met ‘n uitmuntende uitvoering van Joseph and the amazing Technicolor Dreamcoat van Andrew Lloyd Webber en Tim Rice. Hierdie opvoering is oorspronklik vir skole geskryf en is reeds duisende kere regoor die wêreld opgevoer.
Die opvoering was slegs Donderdag en Vrydag op die planke. Mens het gevoel dat die vertoning dieselfde paadjie as vorige produksies van HFM se Revuegroepe moes volg deur ‘n draai te maak by Sun City waar die kinders se talent en die uitstekende klankbaan en choreografie aan die wyer publiek blootgestel kon word.
Spesiale vermelding gaan aan Ursula Roux, Nelré Benadé en Elmarie Wentzel vir die choreografie en Franco Loots wat verantwoordelik was vir die uitstekende opname en klank gedurende die vertoning.
Lana Senekal as die Verteller, Dirk Coetzee as Joseph en Rigard Vink as Pharaoh, het geskitter in hul rolle. Alles het soos ‘n professionele opvoering sonder haakplekke verloop en mens kan maar net met lof praat van almal wat deel was van die produksie.
Die kostuums was uitstekend en kleurvol en die dekor effektief en baie kunstig voorberei.
Bekende liedjies uit hierdie skouspel, wat in die sewentiger en tagtiger jare baie kritiek van die kerke ontlok het, was onder meer Any Dream Will Do en One more angel in heaven.
‘n Uitstekende basis is gelê vir toekomstige produksies wat ons in die toekoms van HFM kan verwag.