Ongure weer hou nie besoekers weg

Gaste plak blikkies saam met leerlinge van die Spitskop Special Needs School tydens die oggendtee wat die skool aangebied het.
Gaste plak blikkies saam met leerlinge van die Spitskop Special Needs School tydens die oggendtee wat die skool aangebied het.

THABAZIMBI – Die dames van Thabazimbi het Donderdag 13 Maart die gure weer, erg verspoelde grondpaaie en gerugte van vloedwaters, getrotseer om by Spitskop Special Needs School te kom tee drink. Die skool het op 11 Februarie hul eerste verjaarsdag gevier en die skool het gevoel dit is tyd om die vrouens van Thabazimbi ‘n kans te gee om hierdie unieke mylpaal saam met hulle te geniet.

Die skoolhoof, Karen Vorster, het van die tyd gebruik gemaak om die gaste meer oor die skool te vertel, die uitdagings wat hierdie unieke kinders met hulle spesiale behoeftes ervaar asook die oplossings en benaderings wat die personeel moet toepas om elke kind ten volle te stimuleer en te ontwikkel.

Die gaste het die geleentheid gekry om vrae te vra en die personeel van SSNS het hul belangstelling baie waardeer. Daarna kon hulle deur die skool beweeg om na die klaskamers en ander geriewe te kyk. Hulle is die geleentheid gebied om aarbeiplantjie blikkies saam met die kinders te versier wat hul dan as geskenkies kon huis toe neem. Nie net hulle het geskenke ontvang nie, maar die skool bedank die dames vir al hul bydraes met die speelgoed, die kinders gaan dit geniet.

Die kinders en gaste het die aktiwiteite baie geniet. Dankie aan elkeen wat soveel geduld en liefde geopenbaar het. Vir die kinders sal dit ‘n dag wees wat hul altyd sal onthou. Die skool bedank ook graag hul hoofborg Thaba Super Spar, vir die heerlike verversings, Twilight Breeze wat die tafels en stoele vir hulle geleen het en Annetjie Muller vir die tafeldoeke en servette.

Die raad wil ook vir Karen Vorster en haar personeel bedank vir al hul moeite om van die dag ‘n sukses te maak.

Die gaste wat deur moedernatuur verhoed is om op te daag sal op ‘n latere geleentheid genooi word om die skool te besoek.