Active Life juniors wen “Rookie” uitdaging
MIDRAND – Lede van Active Life Gym het vroegoggend op Sondag, 1 Desember 2013 na Strike City te Midrand vertrek om deel te neem aan die “Warrior Black Ops Challenge”.
Min wetend wat op hul wag, het hulle vol moed, in hul kamofleerdrag, hul plekke by die wegspring ingeneem. Daar is gekruip, deur moddergate en –slote, geklim en gespring, gestoot en getrek aan die uitdagende 17.5km hindernisbaan wat gebaseer word op die “Black ops” opleiding wat vroeër jare aan weermaglede gegee is.
Die seniorspan, bestaande uit Zanie en Tjaggies van Rensburg, Michael Buys en Moksie Pelser het die baan in ‘n tyd van 2 ure 58 min voltooi en eindig elfde van 44 “Black Ops” spanne. Die trots van die dag was egter die juniorspan wat die “Rookie”-hindernisbaan in ‘n tyd van 45 minute voltooi en as algehele wenners van 418 spanne uit die stryd getree het. Hierdie span wat hulself die Thaba Warriors noem, het bestaan uit Francois Buys, Benhard van Rensburg, André Mostert en Elzani Davies. Active Life Gym wens die lede geluk met die besonderse prestasie.
Die “Thaba Warriors”, vlnr: Benhard van Rensburg, Elzani Davies, Francois Buys en André Mostert het as algehele wenners uit die stryd getree.