Totsiens Pappa

THABAZIMBI – Pieter du Plessis, alom bekend as Doep Snorre, is op 12 Junie 2013 aan die ouderdom van 76 jaar oorlede.

Sy familie is dankbaar dat hy vir nog 22 jaar na sy eggenoot se afsterwe, vir hulle gespaar gebly het.

Doep was ‘n voorbeeld van hardwerkendheid, pligsgetrouheid en wedersydse respek. Hy het ook altyd raad en planne gehad as dinge nie mooi geloop het nie en sal onthou word vir sy gesegde: “’n man kan sukkel, maar sy planne moet net nie opraak nie.” Sy gesin sal sy stories van die outyd mis asook sy kennis van mense en geskiedenis. Sy skelm laggies as hy iemand behoorlik die hoenders in gemaak het, al was hy altyd kamtig onskuldig, is ook een van sy eienskappe wat sy gesin altyd sal koester.

“Ons mis pa en sal altyd vir pa lief wees soos pa vir ons was. Rus in vrede en kuier lekker aan die anderkant, tot ons weer ontmoet,” groet sy gesin sowel as die mannetjies in Pretoria en Siebie.

Hy laat sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders na.

Die familie bedank dr Andries Buys, Rykie May van Helpende Hande en ds Dirk Laufs wat dinge vir hul makliker gemaak het.

 50-Doep Snorre

Pieter “Doep Snorre” du Plessis (76) is op 12 Junie 2013 oorlede.