Breinspoeling: val jy of nie

Week 48 – 29 November 2013

Kommentaar deur die redakteur,  Pieter Coetzee:

 

Gedurende my kinderjare moes ek altyd hoor van hoe die kommuniste, Rooms Katolieke en almal wat jou van jou lewenswyse wou afrokkel van breinspoeling gebruik gemaak het. Ek het beelde in my kop gehad van hoe jy vasgemaak op ‘n stoel sit met ‘n lig wat heeltyd in jou oë skyn en iemand wat iets aanmekaar oor en oor herhaal waarna jy moet luister.

Min het ek besef dat dit nie so is nie, maar dat breinspoeling deel uitmaak van enige dogma, kultuur, geloof, politieke oortuiging onderwysstelsel en selfs huishoudings. Herhaal iets genoeg keer as die absolute waarheid vir ’n kind in sy vormingsjare en hy sal begin glo dat dit wel die enigste manier is om iets te doen. Sodanig dat hy glo dat hy ander mense mag benadeel en homself die reg toeëien om selfs iemand dood te maak op grond van sy oortuiging.

Hier lê die terroriste aanval op die Wêreldhandelsentrum in New York nog redelik vars in die geheue. Mens sal net nooit weet of daar toe genoeg maagde was vir al die selfmoord vlieëniers wat ook in die voorval dood is nie. Waar kom al die fanatiese Moslems en Christene vandaan? Mense wat geen plek het vir ‘n ander persoon wat nie deel in sy geloof of in  sy spesifieke siening van die geloof nie. Sommige protestante beskou die Katolieke Kerk in dieselfde lig terwyl beide die Katolieke Kerk die oudste Christenkerk in die wêreld is. Daarby is baie Christene kwaad vir die Jode omdat hulle kwansuis die rede was dat Jesus gekruisig is, ken hulle dan nie die verlossingsevangelie nie?

By politiek vind dieselfde plaas en baie mense dring aan op die behoud van hulle kultuur, die tradisie waarvolgens hulle grootgemaak is, al oorskrei dit alle higiëniese, morele en dinge wat vir die res van die gemeenskap taboe en pleinweg walglik is. Kultuur, word gedryf deur onderwys en opleiding en moet voortdurend by die ontwikkelde omgewing aanpas. Tradisie is iets wat voortdurend kan en moet verander anders sou ons steeds volgens middeleeuse wette geleef het. In sommige gevalle probeer party instansies en hul volgelinge dit nog afdwing, maar dit is nie nou ter sake nie.

Mense lees hopeloos te min en vertrou te veel wat hulle by hulle leiers, hetsy politiek, predikant, pastoor, onderwyser of buurman hoor en as die waarheid aanvaar. Met die internet tot die meeste van ons se beskikking, gaan lees gerus bietjie meer oor dit wat jy hoor en wat oor en oor vir jou herhaal word.

Leer om saam met die mense om jou te leef. Jy hoef hulle nie te omhels nie en dit is beslis jou keuse met wie jy wil assosieer. As al die land se militante inwoners minder militant optree en ‘n bietjie meer spasie vir sy buurman los en daarby gesê nie die situasie uitbuit en jou privaat spasie opeis nie, sal ons in ‘n Utopia bly. Slawerny is reeds eeue gelede in Suid-Afrika afgeskaf en as werkers besef dat hulle slegs betaal word vir wat hulle arbeid werd is, sal ons dalk weer ‘n groeiende ekonomie en minder armoede hê. Hierdie situasie sal ongelukkig verskeie geslagte neem om te verwesenlik.

Iets wat wel verwesenlik is, het reeds meer as 2000 jaar gelede sy oorsprong gehad. Die wat nie weet wat dit was nie, kan die Evangelies in die Nuwe Testament naslaan. Hierdie gebeurtenis het aanleiding gegee tot die een tydperk elke jaar, waarneembaar regoor die wêreld onder mense van alle herkomste, rasse en gelowe en word selfs as ‘n spesiale tydperk van welwillendheid teenoor almal gevier.

Selfs in die Oosterse lande waar hulle meestal net op die kommersiële aspek daarvan ingestel is en maar bra min weet van die werklike geskiedenis is die mense baie gemoedelik met mekaar en die besoekende toeriste.

Nieteenstaande die Kruistogte waar baie mense vermoor is omdat hulle nie aan die Christengeloof behoort het nie, het Kersfees die een dag geword, ongeag hoe jy dit vier, waar strydbyle oor die algemeen begrawe word en mense wys dat hulle omgee deur samesyn en die genot en die vreugde om iets vir iemand anders present te gee.

Ongelukkig mis al die militantes hierop uit.