Tarentaalpot wen kompetisie
Deur Ems Strydom
DWAALBOOM – Vrydagoggend vroeg het die potjie konings al begin nesskrop, om die regte kookplek te kry en die voorbereidings vir die potjie te begin.
Skaapskenkels was die gewildste, maar tarentaal, hoender en skaapafval was ook op die spyskaart. Die hoenderpotkokers was bietjie laat, maar hulle het op die einde nog steeds die tweede plek behaal.
Vanjaar se wenners was André Pelser en sy twee vaardige helpers, skaars groot genoeg om in die pot te loer, maar Drickus en HW du Plessis, het hulle kant gebring en die tarentaalpot het met die trofee weggestap.
Die Prins familie, met die hoenderpot, wat byna nie hulle draaie kon kry om 12 uur te begin nie, het die tweede prys ingepalm en kort op hulle hakke was Joseph en Ester Fritz met hulle skaapskenkelpot.
Die manne wat so seker was dat hulle die pryse gaan inpalm en selfs twee potte ingeskryf het, skaapskenkel en ‘n afvalpot, het skoon vergeet dat ‘n pot ook groente moet bykry. Gelukkig was hulle gees so goed, moontlik kon hulle dalk die beste gees trofee ingepalm het, as daar nou so trofee was. Kobus Engelbrecht, Chrisjan van Wyk en Drickus Verster, reken hulle het nou genoeg “tips” gevang, en volgende jaar sal hulle pot glo defnitief wen. Hulle daag alreeds almal uit om die potte reg te hou vir volgende jaar se Oesfees kompetisie, dan sal hulle wys hoeveel murg daar in hulle pype is. Intussen hoop ons hulle oefen solank en onthou om groente in te sit. Potjie kook is nie vir sussies nie, jy moet jou storie ken.
Drickus en HW du Plessis, saam met hulle oom André Pelser, wat met hulle tarentaalpot, almal stof in die oë geskop het.