Swak sein bespreek by sakekamervergadering

THABAZIMBI – Thabazimbi Sakekamer het na aanleiding van al die probleme wat oor Vodacom, die SA-gebaseerde mobiele telekommunikasie-maatskappy, aangemeld is, ‘n vergadering op Maandag 30 September by African Guest Lodge (ou Kransberg Hotel) belê.

Imran Kahn van Vodacom se hoofkantoor in Polokwane, was die spreker. Kahn was gretig om die selfoonprobleme wat tans ondervind word aan te hoor.

Die vergadering is deur die myn-, IT- en sekuriteitsektor sowel as gastehuiseienaars en sakelui bygewoon.

Die Vodacom-span het al die klagtes aangehoor. Die meeste het gehandel oor die swak opvangs wat ervaar word. Verbruikers van ander mobiele telekommunikasie-maatskappye sing egter dieselfde deuntjie.

Volgens Kahn speel die toename in slimfone ‘n geweldige rol in die oorlading van die netwerk, wat dan aanleiding gee tot die swakker selfoonnetwerkopvangs. Die groter las wat slimfone op die netwerk plaas, verhoog ook die druk op die datanetwerk.

Telkom is tans die transmissieverskaffer, dit wil sê, hulle voorsien die netwerktorings van elektrisiteit. Daar is tans nie genoeg elektrisiteit om die torings op volle sterkte te laat funksioneer nie.

Voorts moet verbruikers daarop let dat die hoeveelheid druk wat op die sender geplaas word, ‘n direkte uitwerking op die seinsterkte het.

Daar is tans 12 torings in die Thabazimbi-omgewing, waarvan slegs twee met 3G toegerus is. Vodacom was die eerste diensverskaffer om ‘n 3G- (derde-generasie) of UMTS-netwerk in Suid-Afrika bekend te stel. Die maatskappy bied ook HSDPA en LTE.

Vodacom het twee-, vyf- en 10-jaarplanne in plek om die hoeveelheid torings wat met 3G toegerus is, te verdubbel en ander netwerkuitbreidings te doen.

Telkom sukkel die afgelope klomp jaar met transmissieverbindings in verafgeleë plekke. Die toring op pad na Dwaalboom is een so ‘n voorbeeld, waar daar vanaf 2009 gepoog word om dié toring van krag te voorsien.

Volgens Jacques Blaauw, voorsitter van die Thabazimbi Sakekamer, sal dit vir enige netwerk voordelig wees om afgeleë plekke van hoëspoed internetverbindingsein te voorsien, aangesien internasionale jagters en ander toeriste veral gedurende die wintermaande hierheen stroom.

Vodacom sal poog om vroeg in volgende week ‘n tegniese taakspan na die transmissietorings te stuur vir netwerkontleding en foutopsporing om sodoende van die probleme aan te spreek. Kahn het die vergadering verwittig dat hulle voor die einde van Oktober ‘n vorderingsvergadering sal hou.

Vir navrae kontak Estie Steenkamp, die sekretaresse van Thabazimbi Sakekamer by 082 328 4586 of Jacques Blaauw, die voorsitter, by 083 303 9230.

40-Sakekamer Vodacom

Die sellulêre maatskappy, Vodacom, het ‘n vergadering belê om die tegniese probleme wat tans ondervind word, aan te spreek.