Brandstigting verwoes nóg veld

THABAZIMBI – Drie verskillende brande het die afgelope naweek in die dorpgebied voorgekom. Na wat berig word, is al drie brande deur brandstigters veroorsaak.

Brande in die Heuwelkruin-omgewing, by die 4×4-baan en Bosbokstraat is vinnig geblus om te verhoed dat dit versprei en skade aan wonings aanrig.

Jong kinders en kwaaddoeners word gemaan om nie betrokke te raak by hierdie kriminele oortreding nie. Dit is strafbaar met ‘n boete en selfs tronkstraf.

Voorts word daar ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hierdie brande nie op die sosiale netwerke aan te meld nie, aangesien die munisipaliteit nie oor hierdie media beskik nie. Skakel die brandweernommer by 082 551 4204 om brande te rapporteer.

Wanneer ‘n brand gerapporteer word, word daar slegs een voertuig uitgestuur, gewoonlik ‘n verkeerskonstabel, om die brand te assesseer. Soms word die klein brandweertrok uitgestuur om die vuur te monitor waarna die groot brandweerwa ontbied word indien nodig.

40-Brandweerwa 2

Die volgende skadeberamings vir Augustusmaand is deur die Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging deurgegee: 616ha by Leadwood Lodge, 1069ha by die berg by Zimthabi en 11 660ha by Rooiberg/Raphuti.

 Foto links: Die groot brandweerktrok is ingespan om die vuur by Heuwelkruin te blus. Foto: Estie Steenkamp.