Kop-aan-kop eis 3
Drie mans is dood na ‘n kop-aan-kop botsing op die R510 tussen Amandelbult en Northam in die oggendure van Dinsdag 27 Augustus 2013.
Na wat berig word was vier mans in ‘n Hyundai Getz oppad huiswaarts ná hul skof by Amandelbult myn. Die minibus-taxi, waarteen die Getz gebots het, het sewe persone vervoer. Drie van die vier persone in die Getz, wat ook die bestuurder insluit, is op die toneel oorlede, terwyl die vierde persoon steeds in ‘n kritieke toestand is.
Die insittendes van die minibus-taxi, tesame met die bestuurder, het ernstige beserings opgedoen. Volgens Northam SAPD is dit nog onduidelik wat gebeur het en word die saak ondersoek. Volgens ‘n ooggetuie was daar ook ‘n bakkie by die ongeluk betrokke. Ten tye van perse het Northam SAPD nog nie die oorledenes se name bekend gemaak nie.
Volgens die Northam verkeersafdeling is dié stuk pad berug daarvoor vir die gevaarlike draai tussen die “pram koppies” en maan hulle motoriste om nie kanse te waag wanneer hulle op daardie draai ‘n voertuig wil verbysteek nie. Foto: Hector Richardson.