Vyftien dood ná gru-ongeluk
MOGWASE – ‘n Gru-motorongeluk naby Mogwase het die lewe van 15 mense geëis. Die ongeluk het Sondagmiddag 30 Junie omstreeks 12:00 op die R510 tussen Sandfontein en Welgeval plaasgevind. Na wat berig word, het die bestuurder van ‘n bakkie voor ‘n aankomende bus ingedraai.
Volgens die polisie sou die busbestuurder nie daarin kon slaag om die botsing te verhoed nie en is die bakkie etlike meters ver gesleep. Die bus van Ellisras se Lowveld busdiens met sy 28 passasiers, waaronder die meeste werksaam is by Lowveld busdiens, was onderweg vanaf Sun City terug na Lephalale, terwyl die bakkie vanaf Thabazimbi na Mogwase onderweg was toe die ongeluk plaasgevind het.
Veertien mense het saam met die bestuurder van die bakkie in die tragiese ongeluk gesterf. Hieronder was drie kinders tussen die ouderdom van 8-12 jaar, 2 vroue en 10 mans . Volgens ooggetuies was al die slagoffers nie passasiers van die bakkie nie, maar wel voetgangers wat deur die meegesleurde bakkie getref is.
Die passasiers van die bus het slegs skrape, snye en twee of drie beenbreuke opgedoen. Volgens berigte is die slagoffers na die Job Shimakane-hospitaal vir behandeling gehaas.
Een van Lowveld busdiens se werkers het wel op Maandag vir werk aangemeld.
Mnr Simon Lesolang Mmope, woordvoerder van die departement van menslike nedersettings, openbare veiligheid en skakeling het aan Kwêvoël gesê dat hierdie ongeluk werklik kommerwekkend is. Die Noordwes LUR van menslike nedersettings, openbare veiligheid en skakeling, mnr Nono Maloyi, het sy simpatiebetuiging uitgespreek teenoor die slagoffers se families. Hy moedig padverbruikers aan om die padreëls te gehoorsaam, om ‘n veilige spoed te handhaaf en om ander motoriste in gedagte te hou.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Wrakstukke van die onherkenbare bakkie ná die ongeluk wat 15 lewens geëis het. Foto: Tshepo Porotlwane.