Bekende inwoner oorlede

THABAZIMBI – ‘n Bekende inwoner van Thabazimbi, Susan Wille (77), is op Vrydag 29 Maart 2013 in die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede.

Sy het, kenmerkend aan haar persoonlikheid, die stryd teen kanker tot aan die einde beveg.

Susan het as Bosvelder grootgeword. Sy is in 1957 met Jan Willemse getroud en het na Pretoria verhuis waar Jan in 1970 oorlede is. In 1976 tree sy weer in die huwelik met Cobus Wille en verhuis sy na Lichtenburg. In 2000 is Cobus oorlede en sy besluit om in 2002 haar weer op Thabazimbi te vestig.

Goeie musiek was een van haar groot voorliefdes in die lewe. Verder sou sy eerder ‘n halfuur te vroeg vir ‘n afspraak opdaag, as drie minute laat.

Sy is op Vrydag 5 April in die familiebegraafplaas op die plaas Blinkwater, naby Sentrum, begrawe. Die kerkdiens was vanuit die Gereformeerde Kerk Thabazimbi.

Die kleinkinders sal haar onthou vir ‘n gevoel van veiligheid, gratis lekkers op die regte tye en gesonde dissipline.

Sy word oorleef deur haar seun, twee dogters en agt kleinkinders. Sy laat ook twee ouer susters en ‘n ouer broer agter.

16-Susan Wille

Susan Wille (77) het Vrydag 29 Maart haar stryd teen kanker verloor.