SAPD gryp in by GOP-vergadering
ROOIBERG – Die SAPD moes noodgedwonge twee keer ingegryp om ontstoke inwoners vanuit die saal te verwyder tydens die 2013/14 Geïntegreerde Ontwikkelingsplan en Begroting vergadering wat Saterdag 13 April 2013 op Rooiberg gehou is.
Dit het gevolg nadat hulle op ‘n luidrugtige wyse hul griewe aan die burgemeester, me Patricia Mosito en munisipale bestuurder, adv Edward Ntsoane bekend gemaak het.
Alhoewel die hele 4-uur lange vergadering hoofsaaklik in Tswana waargeneem is, kon daar aan die inwoners se stemtoon afgelui word dat hulle uiters ontevrede is met die huidige stand van munisipale dienslewering.
‘n Betroubare bron het aan Kwêvoël gesê dat die burgemeester een van dié inwoners probeer stilmaak deur aan hom te sê “shut up”. Die inwoner het egter aangehou om, na wat beweer word, dreigemente aan die burgemeester te rig en is sodoende deur die SAPD en verkeersafdelinghoof, David Moabelo, uit die vergadering begelei.
Inwoners van Rooiberg het voorts hul frustrasies uitgelig teenoor onder andere: die afwesigheid van sportfasiliteite, die stand van die begraafplaas en dat die wyksraadslede, rdle Paul Scruton en Themba Mkansi meer sigbaar moet wees.
Leeupoort inwoners het op hul beurt aangedring om ‘n verbeterde rioleringstelsel aangesien die bestaande dreineringstelsel etlike kopsere veroorsaak rakende noodsaaklike instandhouding.
Nagenoeg 200 inwoners het die vergadering bygewoon.
Raadslid Paul Scruton het die inwoners genooi na die Wykskomiteevergadering van Wyk 2 op Dinsdag 23 April om 18:00 te Christian Family Church te Bonanza. Klagtes word deur die Wykskomitee aan die kantoor van die speaker deurgegee wat op hul beurt dit aan die LUR van COGHSTA (Cooperative Government, Human Settlements and Traditional Affairs) rig. Sodoende word daar meer druk op plaaslike regering geplaas.
