Wat DA-raadslede moet doen

Ons lesers skryf

In antwoord op die skrywe van Frik, in Die Kwêvoël van 01/02/2013.

Eerstens sal ek graag aan Frik vra waar was jy tydens die raadsvergadering van Donderdag 31 Januarie. Gelukkig was daar persone van die Sakekamer en lede van die publiek, wat kon sien dat die DA-raadslede nie net daar sit en mooi lyk nie.

In antwoord op jou siening dat die raadslede net sit en wag vir salarisse, wil ek jou die volgende inligting gee. Ek kan net namens die DA praat, want ek weet nie wat die ander partye se raadslede doen nie.

Die DA-raadslede se take word deur die party in twee groepe ingedeel naamlik: Polities- en nie-politiese take.

In die DA word daar op elke raadslid elke ses maande ‘n prestasiebeoordeling gedoen deur ‘n paneel van seniorlede van die party. Jy word gemeet deur sekere doelwitte wat die party stel. Die DA moet bewys lewer oor elkeen van die kriterias. Indien die doelwitte nie bereik is nie, word jy uit jou pos verwyder.

Politiese take is kortliks as volg: lede werwing, takstigting (die paar DA-lede in die dorp is verantwoordelik vir meer as 1 wyk, siende dat hulle so min is), deur-tot-deur besoeke om DA inligting aan lede oor te dra (almal het nie telefone nie), sosiale take en verpligtings, koukus vergaderings, plaaslik, kiesafdeling en Provinsiaal by te woon, Bystand tydens tussenverkiesings in jou provinsie te verleen (deur-tot-deur te loop om kiesers te werf). Die dag met die tussenverkiesing moet daar ook gehelp word. Elke week ‘n takvergadering by te woon (meeste lede doen dit op ‘n Saterdae) en maandelikse verslae vir die Federale raad in te dien. Nie-politiese take: die publiek se klagtes te probeer oplos, selfs die wat nie eens die moeite doen om te gaan stem nie, hulle kla soms die meeste oor probleme en is ook te gemaklik, om hulle eie probleme op te los, Raadsvergaderings by te woon (‘n dik agenda word die nag voor die vergadering by jou huis afgelaai en die volgende dag moet jy insette hieroor lewer. Die Munisipaliteit steur hulle nie aan die resolusie om die agenda sewe werksdae voor die tyd af te gee nie), voor elke vergadering hou die DA ‘n koukus om die agenda te bespreek, spesiale vergaderings by te woon, komitee- en subkomitee vergaderings by te woon (die werkskomitee vergadering van SALGA is elke tweede week in Polokwane of Tzaneen).

Frik, jy is baie welkom om ‘n week saam met my deur te bring, dan kan jy self ondervind hoe ‘n dolle gejaag ‘n DA-raadslid se werk is.

Piet Strydom

DA-raadslid

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.