Vlakte Orgideë byeenkoms

NYLSTROOM – Die Vlakte Orgideëvereniging het op 19 Januarie hul eerste vergadering vir die jaar aangebied. Die vereniging het drie nuwe lede, Sarie Lancaster (Mookgopong) en Dries en Jentina Becker (Mokopane) tydens die vergadering verwelkom.

Hul byeenkoms het heerlik gegons met beplanning rondom die vasstelling van 2013 se Jaarprogram met fantastiese uitstappies om na uit te sien.

Carel van Aardt (Uitkyk, Mokopane) se prag orgideë, Paphiodelium collsum, is tydens die vergadering aangewys as die Algehele Wenner van al die inskrywings ontvang vir beoordeling. Hierdie spesie is ook beter bekend as die “slipper” orgideë. Die vereniging wens hom geluk met die prag plant met 11 blomstele aan een plant.

Lede van die VOV is tans woonagtig te Lephalale, Mokopane, Mookgopong, Modimolle, Pretoria en ‘n ere-lid wat na Wes-Kaap verhuis het. Hulle nooi graag belangstellendes van die ander dorpe in die omgewing om saam te kuier by die volgende vergadering wat beplan word vir Saterdag 9 Maart om 14:00 te Bufland Boerdery, Konferensie Fasiliteit, buite Mookgopong. Daar sal ‘n geleentheidspreker wees en heerlike versnaperinge sal aangebied word. Kontak die sekretaresse, Delia Bogaards by 081 4777 374 of e-pos dmbogaards@gmail.com vir meer besonderhede. Nuwe lede is ook welkom om hierdie nommers te skakel vir meer inligting.

Die nuwe generasie orgideë, wat sommer maklik groei, word gekweek om die ongelooflikste blomme te produseer. Tydens elke vergadering is daar geleentheid vir lede en besoekers om probleemplante saam te bring vir identifisering en bespreking ter oplossing van die probleem.

06-VOV

Carel van Aardt se prag orgideë, Paphiodelium collsum, is tydens die VOV se eerste vergadering as die Algehele Wenner aangewys.