Community

Verkragtingsaak skok Thabazimbi

THABAZIMBI – ‘n Optog onder die faandel “Vroue teen Verkragting” vind eerskomende Saterdag 12 Januarie om 10:00 vanaf KFC se parkeerterrein plaas.

Hierdie optog spruit uit die skokkende verkragtings-voorval wat in die oggendure van Sondag 6 Januarie in dieselfde parkeerarea plaasgevind het.

Volgens die slagoffer het vier blanke mans haar oorrompel toe sy onderweg was na haar voertuig wat oorkant ‘n bekende kuierplek geparkeer was. Na die verkragting was sy genoodsaak om ‘n saak by die polisie aanhangig te maak sodat die misdadigers aangekeer kan word.

Die fisiese impak sowel as die geestelike implikasies sal vir lank nog deel wees van haar lewe. Sy vra dat meisies altyd in groepe moet beweeg wanneer hulle na kuierplekke gaan. Moenie ‘n kans waag nie en wees paraat en bewus van wat om jou aangaan.

Sosiale netwerke het behoorlik vanaf Woensdag gegons oor die verkragting en kan moontlik help om die boodskap aan die plaaslike gemeenskap oor te dra dat dit nie snags veilig is om alleen die strate aan te durf nie.

Die gemeenskap word ook gevra om enige misdaad te rapporteer by die SAPD, wat kan lei tot ‘n veiliger omgewing.

Enigiemand wat moontlik leidrade het wat kan lei tot die opsporing en inhegtenisname van die verdagtes, kan Adjudant Offisier DJ Lotter skakel of 014 777 3501.