SAVF bewaar die omgewing
THABAZIMBI – Gedurende die Kinderbeskermingsprojek wat die SAVF vroeër vanjaar geloots het, is die tema “Bewaar jou omgewing” gebruik.
As uitvloeisel hiervan het Roux Engineering 30 dromme geskenk en is die uitdaging aan plaaslike skole gestel om die dromme te verf sodat dit as mooi vuilgoeddromme in Thabazimbi geplaas kan word.
Die dromme is op Vrydag, 28 September deur twee plaaslike kunstenaars, Maro van der Merwe en Petro van der Merwe, ‘n nuwe intrekker in Thabazimbi, beoordeel.
Die SAVF betuig hul dank teenoor die kunstenaars, aangesien dit ‘n moeilik taak was. Die dromme was verstommend mooi en die beoordeling was gedoen met inagneming van die betrokkenheid van kinders by die projek.
Thabazimbi Laerskool het die “wendrom” gelewer met hul tema: huisie en bote, Bosveld Akademie se drom met skapies was pragtig en Ysterberg Laerskool het die “groen” tema beklemtoon.
Die SAVF bedank graag die volgende donateurs: Petro van der Merwe – ‘n gratis kursus, materiaal ingesluit, vir ‘n behoeftige, belowende leerling; drie R200 koopbewyse van Thaba SuperSpar; R500 van mev Yvonne Becker; R200 van ‘n anonieme skenker en ‘n Skildery deur die SAVF.
Die betrokkenheid van die skole was wonderlik en die SAVF glo dat die hele gemeenskap hierdie pragtige dromme sal raaksien en benut vir die doel: bekamping van rommel.
Ysterberg Laerkool se pragtige “groen” tema vullisdromme.