Laaste vergadering vir Northam VLU
SWARTKLIP – Die dames van Northam VLU, Northam Helpende Hand asook die dames wat betrokke is by die Fleur de Lis Vrouedag, het op 2 Oktober by Annatjie Dreyer se huis byeengekom vir ‘n laaste vergadering vir die jaar.
Die VLU-dames werk onverpoos om hul kompetisie-artikels vir die jaar te voltooi, en maak ook kniekombersies vir behoeftige persone wat op 16 Oktober tydens die laaste VLU Streeksvergadering te Ellisras ingehandig moet word.
Die Streeksvoorsitster van Helpende Hand, Marianthie van der Walt was ook teenwoordig, en is verras met ‘n klompie geskenke vir haar baba wat oppad is. Ten tye van die vergadering is die stig van ‘n beursfonds vir die Northamtak ook bespreek, en is die nodige dokumentasie afgehandel.
Laaste reëlings aangaande die Fleur de Lis Vrouedag, wat beplan word vir Saterdag 20 Oktober, is bespreek, en die pak van die geskenkboksies word beplan vir Maandag 15 Oktober. Heelwat kontantborge word nog benodig, en daar word ‘n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om asseblief hierdie geleentheid wat beplan word vir liefdadigheid, te ondersteun. Geskenke vir gelukkige trekkings word ook nog benodig. Kaartjies is ook nog beskikbaar. Vir meer inligting aangaande bogenoemde, skakel of sms Mari Meintjes 082 086 4915.
Dina Smith met haar kniekombersie, wat vir liefdadigheid geskenk gaan word.