Dreiers nou BUCO
THABAZIMBI – Die helder oranje handelskleur van BUCO hardeware en boumateriaal, het verlede week die plek ingeneem van Dreiers Original Hardware se blou gebou in Warmbadweg.
Die personeel, wat heel week hul neonkleurige prettige pruike gedra het en by verkeersaansluitings die nuwe BUCO pamflette uitgedeel het, het daarin geslaag om die gemeenskap se opgewondenheid te prikkel sodat hulle op Saterdag 29 September die amptelike openingsgeleentheid op die BUCO perseel bygewoon het.
Die geur van vars gebraaide boerewors en broodjies sowel as die fantastiese vooraf geadverteerde spesiale aanbiedings het verder daartoe gelei dat BUCO se deure tot laat oopgebly het gedurende hulle openingsnaweek. Koeldrankies en besigheids-aandenkings is uitgedeel sowel as ‘n reuse gelukkige trekking prys.
Die bestuur en personeel van BUCO bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning gedurende die openingsnaweek en nooi hulle uit om die winkel te besoek vir vriendelike en vinnige diens.
Hul besigheidsure bly dieselfde: Maandae – Vrydag vanaf 07:00 – 17:00, Saterdag 07:00-12:00 en Vakansiedae 08:00 – 12:00. Die besigheid is egter gesluit op Sondae. Skakel hulle gerus by 0147721407.
Seuna Lottering, Johan de Beer (Bestuurder: BUCO) en Leon Olivier tydens die opening van BUCO.