KunsteGrot groet – Super KunsteGrot wag…
THABAZIMBI – Dit was maar ‘n nostalgiese aand vir almal wat by die KunsteGrot betrokke is toe die deur finaal gesluit is na Mathys Roets se optrede. Na ses jaar was dit ‘n laaste toesluit.
Mathys Roets was net die regte keuse om mee af te sluit. Hy was soos gewoonlik skitterend en die teatergangers wonderlik. Van die KunsteGrot se kant af – baie dankie aan een en elkeen wat oor die jare op welke manier ookal gehelp, geborg en ondersteun het. Dié KunsteGrotjie sal altyd ‘n baie spesiale herinnering bly.
Nou word daar vorentoe gekyk en danksy die ongelooflike Hannes van Thaba Super Spar, word daar vroeg in 2013 met ‘n knal weggespring in SPAR Super KunsteGrot. Groot en lekker en dinge word beplan en almal betrokke sien uit na die nuwe uitdaging. Al wat van die gemeenskap gevra word is hul ondersteuning.
Dinge gaan egter nie lê nie – die vertoning moet voortgaan. RiVoToneel se “Die Buite-egtelike Ouma” is steeds op die program. Dit verskuif net op 19 Oktober na Thabazimbi Laerskoolsaal se planke.
Alle navrae en besprekings kan by Rita gedoen word by 083 7448559 / rivol@telkomsa.net
Rita saam met Mathys na afloop van sy vertoning, die laaste in die huidige KunsteGrot.