BELA-BELA – Die burgerregte-organisasie, AfriForum, stig op 17 April 2012 ‘n plaaslike tak in Warmbad.
Dit kom nadat AfriForum verskeie klagtes oor swak dienslewering asook die Bela-Bela-munisipaliteit se versuim om na die gemeenskap se belange om te sien van die publiek ontvang het.
AfriForum is in die proses om ’n nasionale voetspoor te vestig deur takke in gemeenskappe te vestig. Die organisasie het die afgelope jaar bykans 60 takke landwyd gestig en gemeenskappe só in staat gestel om swak dienslewering, korrupsie en ander wandade waaraan munisipaliteite hulle skuldig maak, teen te staan.
“Ten einde mense by te staan wanneer inbreuk op hulle regte gemaak word, verskaf ons opleiding aan ons lede sodat hulle self die diensleweringskwessies in hulle dorpe en stede kan aanpak,” sê Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder vir Limpopo.
Plaaslike AfriForum-strukture kan op AfriForum se hoofkantoor steun vir regshulp en kry ook onder meer bystand ten opsigte van opleiding, administratiewe sake en kommunikasie.
AfriForum is ‘n burgerregtegroep wat daarop toegespits is om minderhede in Suid-Afrika te mobiliseer en hulle regte te beskerm. Gemeenskappe kom toenemend onder druk weens die staat wat sy pligte teenoor die land se inwoners versuim. Die gevolg hiervan is swak dienslewering en onveilige woonbuurte. Gemeenskappe moet hulle strate van misdadigers en onbeholpe stadsrade terugneem. Daarom het AfriForum besluit om in massa op grondvlak te organiseer en aan gemeenskappe hulle stem terug te gee.
Die Warmbad-gemeenskap word uitgenooi om die tak se stigtingsvergadering by te woon te SAVF, H/v Ludorf en Mentzstraat op 17 April 2012 om 18:30. Vir verdere inligting oor die tak kan Tiaan Esterhuizen by 082 824 7297 of tiaan@afriforum.co.za gekontak word.
