Ysterman vir Renosterstropery

Luzaan Combrink en die dames van Active Life Gym dra hul Oranje Strikkies teen renosterstropery.

Die afgelope tyd is die stroop van renosters hoog op die prioriteitslys van wilddiewe.  Ons as “gewone” mense se hande is afgekap om ‘n bydrae te maak om dit stop te sit.  MAAR … nou het u as individu en maatskappy/besigheid die geleentheid om op ‘n beskeie manier betrokke te raak daarby.

Op Sondag, 22 April 2012, gaan ‘n bekende plaaslike langafstandatleet, Luzaan Combrink,  deelneem aan die Ysterman (Ironman) te Port Elizabeth.  Dit is die “ou grote” van die driekampbyeenkomste en is ‘n Internasionale wedloop.  Dit behels 3.8 km swem (in die see), 180 km fietsry en 42.2 km hardloop.

Ons het dit goedgedink om op Vrydag 20 April 2012 ‘n oranjestrikkiedag aan te bied ten bate van renosterstropery.  Graag wil ons u as maatskappy/besigheid uitnooi/uitdaag om by hierdie projek betrokke te raak deur ‘n  oranje strikkie teen R10,00 per strikkie aan te koop en dit dan te dra op Vrydag 20 April 2012.  Op so ‘n beskeie manier kan jul as maatskappy Luzaan emosioneel vir die Ysterman  ondersteun en terselfdertyd ‘n bydrae maak om renosterstropery hok te slaan.

U kan u oranje strikkies voor of op Donderdag 19 April by haar, Luzaan Combrink (082 5937 084), bestel.  Indien u haar X-bedrag per kilometer ook wil ondersteun, is u welkom om haar te kontak.  Al die fondse wat deur hierdie projek gegenereer word, word direk oorgeplaas na die African Conservation Trust.

Ons sien uit daarna om van u te hoor.

“MAY YOUR FEET BE HAPPY TOO”