Helen Park Northam steeds sonder water

‘n Paar weke gelede was die berig in die Kwêvoël rakende die informele nedersetting, nou bekend as Helen Park. Die nedersetting het, soos berig, die afgelope twee – drie jaar geen skoon water om te gebruik nie. Hulle enigste water is ‘n sloot in die veld wat die afloopwater opvang en dit is ongeveer 700 meter van die nedersetting af. Die water is baie modderig en kan selfs grys water wees.

Die DA het toe die munisipaliteit genader om twee watertenks te voorsien en dan met behulp van die waterkar die tenks twee keer per week te vul. Daar is pertinent gesê dat daar nie geld is vir die tenks nie, maar die volgende week was daar geld om munisipale werkers met ‘n bus Oos-Kaap toe te stuur om ‘n begrafnis by te woon. Die DA het toe Anglo Platinum genader en hulle was bereid om die twee tenks te skenk.

Ek en raadslid Daniels het toe saam met ‘n werknemer die betrokke gemeenskap gaan sien om van hulle te verneem waar die mees geskikte plek vir die tenks sal wees. Die myn het toe versoek dat hulle skriftelike versekering van die munisipaliteit kry dat hulle die water sal voorsien alvorens hulle die tenks sou oprig.

Drie weke het nou al verloop en elke keer sê Mnr. Booysen, die Infrastruktuur Bestuurder, dat die brief die volgende dag gereed sou wees. Tot op datum kon ons nog nie sodanige brief kry nie. Ons as opposisie is nou keelvol vir die politieke speletjies wat ons ANC beheerde munisipaliteit speel ten koste van die groter Thabazimbi gemeenskap.

Om van skoon water voorsien te word is nie ‘n voorreg nie, dit is elke inwoner se grondwetlike reg.

Ek wil dus ‘n beroep doen om met vreedsame protesaksies te begin om hierdie ANC-beheerde munisipaliteit te dwing om hulle belofte van die lewering van dienste en behoorlike infrastrukture na te kom. ‘n Mens kan maar net in Thabazimbi en Northam rondry om te sien hoe vuil is hierdie twee dorpe. Van die aksies wat die gemeenskap kan gebruik is die gedrukte media en die internet. Deur dit te doen kan u ons as opposisie se hande sterk wanneer dit kom by die indiening van mosies.

Ek wil net weer beklemtoon dat ek nie hier is om ‘n gewildheidskompetisie te wen nie, maar is hier om die totale gemeenskap se belange te beskerm en om ‘n taak te verrig.

Piet Strydom

DA Raadslid