Ystervark konsternasie in woongebied

Dié pragtige ystervark is op Maandag in ‘n Thabazimbiër se tuin, waar hy heerlik aan plantmateriaal gesmul het, gevind.

THABAZIMBI – ‘n Ystervark het op Maandag 12 Maart vir groot opwinding in Begoniaweg gesorg nadat Peet van Rensburg se hond die diertjie in die buurvrou se tuin ontdek het.

Met die hulp van Johan Smalberger en Henk Havenga van Kumba se Nooddiensspan, is die diertjie gevang en ongesteurd by sy nuwe tuiste te Ben Alberts Natuurreservaat vrygelaat.

‘n Ystervark (Hystrix africaeaustralis) word tot 20 jaar oud en is ‘n herbivoor wat hoofsaaklik plantmateriaal vreet en snags aktief is. Ystervarke is ook daarvoor bekend om sout na te jaag, en het dus moontlik weens sy voorliefde vir sout, wat voorkom in ingesoute plakhout, sekere verwe, gereedskapshandvatsels, deure, tafels, skoene, klere en ander items wat bedek is met souterige sweet, die woongebied betree.