Groot opkoms by swemgala

Die Gr 5 Dogters Borsslag wenners vlnr: Carle le Roux (tweedplek), Wilmien Schutte (eersteplek)en Jola Stoltz (derdeplek).

THABAZIMBI – Die langverwagte Aqua Kids Swemgala is op Vrydag 9 Maart by Mollies Swembad (Kumba swembad) aangebied.

Volgens die organiseerders was dit ‘n reuse sukses en het die swemmertjies dit terdeë geniet.

Die jongste deelnemer was maar ‘n skamele 17 maande oud en het in die voorskoolse afdelinge meegeding. Die voorskool kinders kon kies of hulle met “pool noodles” of  vlerkies wou swem. Daar was ook ‘n paar wat die 25m sonder hulp getrotseer het.

Kinders vanaf Gr 1 tot en met Graad 7 kon deelneem aan Kruipslag, Rugslag en Borsslag. Daar het ongeveer 100 kinders deelgeneem aan hierdie Gala.

Daar was ook ‘n ope kategorie en almal wat moed gehad het om die 200m te

swem kon deelneem. Jandré van Buuren in Gr 3  was die jongste deelnemer wat

die afstand voltooi het.

Die organiseerders bedank almal wat borgskappe aan die swemgala toegeken het. ‘n Volgende Gala is reeds in die pyplyn, hou gerus Kwêvoël dop vir meer besonderhede. Foto’s verskaf saam met inligting.

Ewan Taljaard (23 maande) was slaggereed om sy kompetisie die stryd aan te sê, totdat hy gevoel het hoe koud die water is.