Kom Groet Die Grotoupa op 30 Julie

Op die foto is vlnr: Frans Swart (Lefra Produksies) Rita Volschenk (KunsteGrot), Paul Lückhoff (akteur) en Hugo Hewitt (Klankingenieur).

THABAZIMBI – Ben Kruger se GROET DIE GROTOUPA bly Thabazimbi vermy!  Lefra Produksies sou Lizz Meiring se GROET DIE GROTOUPA reeds in Februarie by die Kunstegrot aangebied het.  As gevolg van ‘n administratiewe probleem by Lefra Produksies kon die produksie nie toe speel nie en die tweeling, DIE COLLETTS kom sing toe.

Daar is toe besluit om die Grotoupa in Mei by die Kunstegrot aan te bied.  Weer eens sluip daar ‘n administratiewe fout by Lefra in en word Ben nie vir die produksie bespreek nie en speel hy die aand in die Kaap.  As plaasvervanger, word Paul Lückhoff se wonderlike DIE KOEËL IS DEUR DIE KERK aangebied.  “Third time lucky!”  Daar word nou beplan om GROET DIE GROTOUPA op 30 Julie by die Kunstegrot aan te bied.  Teatergangers wat vir die eerste aanbieding van GROET DIE GROTOUPA kaartjies gekoop het, kan dieselfde kaartjies nou gebruik om Ben Kruger in GROET DIE GROTOUPA te sien.  Die ander twee vertonings is heeltemal gratis vir die gehore aangebied.

Frans Swart, Hoof Uitvoerende Beampte van Lefra Produksies, het self Saterdagaand Thabazimbi toe gery om die gehoor verskoning oor die fout te vra.  “In die 25 jaar wat ek in die teaterbedryf is, is dit die eerste keer dat ons sukkel om een produksie vir drie datums aan te bied.  Dit was werklik ‘n totale oorsig aan ons kant en ‘n blatante fout wat ons hoop om op 30 Julie reg te stel.”  In ligter luim het hy ook gesê: “Aan die positiewe kant, kry julle darem nou drie goeie produksies vir die prys van een!”  Hy het ook vir Rita Volchenk geloof vir die wonderlike werk wat sy vir die Kunste doen.

Paul Lückhoff het geskitter in sy eenmanvertoning, DIE KOEËL IS DEUR DIE KERK.  Hy noem dit ‘n produksie oor kerk- en teaterstories.  Die gehoor was gaande oor sy aanbieding en het lekker gelag vir die komiese wyse waarop hy die stories vertel het.  Paul Lückhoff het sy professionele loopbaan as ‘n akteur in 1977 by die destydse TRUK in Barto Smit se DIE KEISER, onder regie van Francois Swart, begin.  Hy het in sy loopbaan in meer as 150 toneelstukke opgetree en in heelwat televisieprogramme en films.  “Ek het nooit ‘n vreeslike behae in film en televisie gehad nie.”  Hy het in 808 vertonings van Dalene Matthee se KRINGE IN ‘N BOS opgetree en het ook vir Lefra Produksies, Elias, die Bosman in hulle suksesvolle FIELA SE KIND gespeel.  Meer onlangs was hy ook te sien in Deon Opperman se ONS VIR JOU.  Hy was ook te sien in GETROUD MET RUGBY en speel ook in die rolprent ROEPMAN wat so pas uitgereik is.