
Met ‘n groot ontnugtering is dit alweer die laaste paar weke van die jaar 2010. Ons kyk na ‘n pad wat ons geloop het, eerstens met groot dankbaarheid, vir al die verryking wat ons deur die jaar beleef het. Ons is dankbaar vir die goeie gesondheid wat ons van ons Skepper ontvang het, alles wat ons geleer, beleef het, nuwe vriendinne gemaak het, en hegter bande met ou vriendinne gesmee het.
Alles wat ons so mildelik uit ons Vaderhand ontvang het, kan ons nooit volkome genoeg dankbaar wees vir dit nie. As ons terug kyk na ons Nuwejaarsvoorneme van 2010, word ons vervul met skaamte oor die geleenthede waar ons versuim het om liefde en meelewing aan ‘n medemens te bewys en goeie voornemens wat nooit gerealiseer het nie. Ja, gelukkig vir ons is dit nooit te laat nie, want ons het ‘n God wat ons sondige geaardheid ken en wat ons wil vergewe. Laat ons dus bely wat ons nagelaat het en besluit om in die nuwe jaar hard te werk, aan al hierdie tekortkominge. Aan ons lede wat hierdie jaar gebuk gegaan het onder groot probleme en diepe hartseer oor geliefdes wat ons aan die dood afgestaan het, wil ek my diepste meegevoel en al die vertroosting van ons Hemelse Vader u toebid. God se weë is vir ons almal onverstaanbaar, maar laat ons nooit vergeet dat die Here ons nooit bo ons vermoëns beproef nie. Laat ons dus nooit twyfel aan Sy opregtheid nie, en aan Hom die geleentheid te gee om heel te maak en te vertroos. Die Nuwe Jaar 2011 lê soos ‘n onbekende toe boek voor ons, kom ons vat elke bladsy, elke dag, soos wat dit sy beurt is. Gebruik die talente wat God aan jou toevertrou het, en ontwikkel hulle tot hul volle potensiaal. My wens vir elkeen is om ‘n Wonderlike feesgety, saam met jou familie en vriende te ervaar. Geniet elke oomblik daarvan, want die herinneringe moet ons deur die Nuwejaar dra.
Beste wense vir elkeen
Vlu Groete
Annatjie Dreyer
