Showgirl doen dit weer

Hannetjie Loots van LOBRAM Brahmane (Lephalale) by haar rekordprys koei, Showgirl wat verlede week vir R 40 000 by die Nasionale Brahman veiling in Pretoria verkoop is. Op die foto is sy, Andri Kleynhans en Showgirl tydens die Thabazimbi skou vroëer vanjaar.

Nog ‘n rekord staan agter die naam van Showgirl, LOBRAM Brahmane en Hannetjie Loots se superkoei.

Sy is verlede week verkoop teen R 40 000 tydens die Nasionale Brahman veiling in Pretoria, die hoogste prys vir ‘n koei. Imberbe Brahmane van Derek en Rina Louw van Modimolle is die trotse nuwe eienaars van die kampioen koei. Twee dae nadat hulle haar gekoop het, het sy ‘n pragtige jong bulletjie in die lewe gebring en Imberbe het sommer twee vir die prys van een gekry.

Showgirl was in 2010 reeds die SA Brahman Genootskap se Superkoei tydens die Nasionale kompetisie met die Tshwane skou in Pretoria. ‘n Superkoei is ‘n koei wat op Breedplan waardes kwalifiseer. Sy moet dus produktief wees, goeie vrugbaarheid en melk-eienskappe vertoon en ‘n goeie kalf kan speen.

Daarna word sy in die ring teen haar kompetisie opgeweeg. Showgirl was ook vanjaar Superkoei by die Thabazimbi en Bosveldfees skoue.

‘n Vers van Bellevue Brahmane van Frank Ferreira en Giel Booysen is ook vir R 40 000 verkoop. ‘n Koei en kalf van Bos Blanco Brahmane van Burnie Stahl is vir R 52 000 verkoop.

Bos Blanco het gesorg vir die groot rekord. Hulle bul is aangekoop vir ‘n Suid-Afrikaanse rekordprys van R 475 000 deur Rynand Mudge van Namibie.

Elana Greyling