Goud en Silwer vir XKT

BRAKPAN – Die derde been van die Great North Kwalifiserende Toernooi vir skopboksers is op 9 Oktober 2010 te Brakpan aangebied.

Die studente van Shihan Peet van Breda het weereens uitstekend gevaar in hul onderskeie afdelings en gevegte. Byna al die deelnemers was blootgestel aan hul eerste toernooi en senuwees het op hol gegaan. Benewens die feit dat dit hul eerste gevegte was, het Laneo Nagel (14), Juandre Uys (7) en Alwyn Smith (20) hul goed van hul taak gekwyt. Meer ervare vegters het egter hul opponente in die kryt aangevat en hul vegkuns op die proef gestel. Werner Rall (18) en Ian Rall (15) het dan ook so harde gevegte beleef met Werner wat sy waardige opponent in die derde rondte uitgeslaan het om goud te verwerf. Dit was ook Werner se eerste blootstelling in die senior kategorie. Ian het ‘n uitgelese opponent van naam geveg en het ‘n silwer medalje verwerf. Ruan moes ongelukkig onttrek weens ‘n besering. Daar is sowat 2000 XKT-studente landwyd, die klasse vir Thabazimbi se lede word steeds in ‘n vertrek by die Thabazimbi Christian School aangebied, belangstellendes kan Shihan Peet van Breda skakel by 084 624 1537. Die skopboksklub is trots op al hul kampioene se prestasies.