Leiers vir Agri Limpopo verkies

Agri Limpopo het 'n nuwe bestuur gekies tydens hul pas afgelope kongres naby Ohrigstad. Op die foto is vlnr agter: Lodewyk de Jager, Dries Enslin, Dannhauzer van der Merwe, Francois van den Berg (president) en Leon Borchards (vise-president). Voor: Gawie van Zyl enJacqui Burns (sekretaresse).

Francois van den Berg is herkies tot president van Agri Limpopo verlede week tydens hul jaarlikse kongres naby Ohrigstad.

Tydens die verkiesing is Van den Berg onbestrede verkies met Leon Borchards verkies as vise-president. Borchards, van Agri Tuinplaas naby Modimolle, neem oor by Dries Enslin van Agri Letaba wat nou net ‘n gewone addisionele lid is. Die res van die hoofbestuur is Gawie van Zyl ook van Agri Lephalale (verantwoordelik vir Landelike beveiliging), Corrie Bezuidenhout van Agri Koraal (Transformasie), Dries Enslin  van Agri Letaba (Omgewingsake), Lodewyk de Jager van Watervalsrivier (kommersiële boerdery), Dannhauzer van der Merwe van Springbokvlakte (Beeldbou en Kommunikasie), Borchards sal weer Arbeid en Maatskaplike sake hanteer.

Dit was die laaste jaarlikse kongres, met kongresse wat nou twee jaarliks gehou sal word, dus weer in 2012. Op 13-14 April 2011 sal ‘n Bosberaad gehou word. Volgens Van den Berg sal die klem val op die interaksie tussen lede om praktiese oplossings te bespreek oor die kwessies wat lede op grondvlak raak.

Nog sake wat bespreek is, is die gesonde finansiële toestand van die organisasie. Planne word gemaak om die kantoor weer terug te verskuif na Polokwane van Agri Lephalale-kantoor met die aanstelling van ‘n hoofbestuurder. Daar word tans gewerk aan planne vir die finansiering hiervan.

Groot sukses is behaal met die Jongboer-opleidingskursus wat vroeër vanjaar gedoen is. Tydens die opleiding word spesifiek gefokus op die bestuur van ‘n boerdery as ‘n besigheid. Jong boere word ook gehelp om hulself voor te berei vir die Toyota/Agri SA Jongboer kompetisie.  Vanjaar se wenner was Agri Lephalale se eie Pieter Zietsman.

Lede het ook hul ontevredenheid en frustrasie uitgespreek met die Eskom-tariefverhogings en die swak diens wat hulle ontvang. Protokolle vir plaasbetreding word nie gevolg nie en boere betaal steeds vir infrastruktuur, wat hulle dan nie besit nie.

Probleme met die stigtings van Opvangsgebied Bestuurskomitees in Limpopo is bespreek. Reuse probleme word ook ondervind met die stigting van Watergebruikersverenigings.

Elana Greyling