Opleiding die enigste antwoord

Tydens hul jaarlikse kongres naby Ohrigstad, het Agri Limpopo se hoofbestuur hul sterk uitgespreek teen die huidige stand van grondhervorming in die provinsie. Lede het hul kommer uitgespreek oor plase wat leeg lê. Volgens Enslin is daar heelwat voorbeelde hiervan in die gebied van Agri Letaba, byvoorbeeld in die Trichardsdal-gebied. Volgens Van den Berg, sal dit nie help om geld in sinkende skepe te pomp nie. “Om implemente te koop, wat nie die werk kan verrig nie vir mense wat nie weet hoe om dit te gebruik nie, is nie die oplossing nie, sê hy. Te midde van nog geld wat in projekte ingestoot word, is daar ‘n legio voorbeelde waar die gras bates toegroei.

“Die oplossing is opvoeding op ‘n bree vlak,” meen Van den Berg. Hy glo georganiseerde landbou moet betrokke raak om opkomende boere te help. “Maar die regering moet hul deel doen as dit kom by die opvoeding en opleiding van kinders in die provinsie. Daar is meer as 600 000 kinders wat tans nie skoolgaan nie. Iets daadwerkliks moet gedoen word.”

Volgens dr Theo de Jager, pas herverkies tot vise-president van Agri SA, glo daar is ‘n groot agterstand in die proses. “Dit lyk of die regering biljoene Rande agter is, beide met die betaling van grondeienaars en die toegifte beloof aan nuwe projekte,” sê hy. Terwyl die regering reeds erken het dat daar groot verwarring binne die departement heers, is daar skynbaar nog geen vordering gemaak in die oplos van die probleme nie.

Lede het gemengde gevoelens uitgespreek oor die mate van sukses wat hulle glo hul betrokkenheid by die opleidingsproses sal hê.

Elana Greyling