Thaba verloor gholf-liga teen Brits

THABAZIMBI – Verlede Saterdag, 16 Oktober, het Thabazimbi se gholf-manne op die moeilike Britsbaan teen ‘n ewe moeilike Britsspan liga gespeel en verloor.

Die span het bestaan uit Jaco Prinsloo, John-James Behrens, Chris Bronkhorst, Sarel Marais, Christof Penzhorn, Jaco Jacobs, Johan Barnard en Tiaan Bronkhorst.

Op Swartklip het die dames met sonopkoms in hulle liga teen Amandelbult afgeslaan en gewen. Hulle was betyds terug om ook die middag hier te kon speel. Hul span het bestaan uit Louise van Graan, Nita Barnard, Marina van der Wateren en Alta Venter. Tuis is die Koedoeskop Borgdag uitgestel en is daar IPS gespeel. Jakkie van der Wateren (39), Heinrich  Penzhorn (36) en Louise van Graan (36) was die wenners. Die Borgdag gaan nou eerskomende Saterdag, 23 Oktober 2010, aangebied word.

Na jare se vertoë word die uitdraaipad na die gholfbaan uiteindelik beveilig. Daar was al ‘n sterfte en verskeie naelskraap ontkomings veral omdat bestuurders nie ‘n veilige volgafstand hou nie en ook nie verstaan waarom motors met flikkers toegerus is nie.

Ek het die afgelope paar weke weer gesien hoekom dit so belangrik is dat spelers hulle gholfballe duidelik merk. Die speel van ‘n verkeerde bal kan jou twee houe kos of in slagspel die putjie laat verloor. Die baan kort nou gou ‘n goeie bui reën. Dit is wel droog maar die baan is nogtans in ‘n puik toestand, veral die setperke. Op Saterdag 6 November is dit weer die jaarlikse besoek van die Gauteng Noord se gholfkomitee. Dit is altyd ‘n groot geleentheid en ek weet die komitee gaan weer met puik reëlings vorendag kom.

Vollie Volschenk