Ons lesers skryf – Verwoestende brand!

Wat ‘n ervaring, wat ‘n belewenis!  Een waarin ek nie graag weer in my lewe deel van wil wees nie.  Die ontnugtering daarna!  Swart verwoesting net waar jy kyk.  Soos ‘n gewraakte ondier het jy hom elke aand sien nader kruip oor die berg se koppe heen- totdat hy vlak naby was en jy besef het net mooi niks gaan hom verhinder of keer nie, want die wind het behoorlik rondomtalie gespeel en meer lyf aan die vlamme gegee.  Die vlamme se punte het behoorlik geklim en gevou om gras, takke en droeë stompe wat al jare op een plek lê.

‘n Beklemmende gevoel van onheil en vrees pak in jou binneste.  Sal dit wat vir jou waardevol is, sneuwel in die slag.  Jou gedagtes val oormekaar in bekommernis oor die diere van die veld- , waarheen gaan hul vlug? Is Marakele voorbereid op wat wag? Wat van die boere- is hul vee betyds gered en sou dit nie spoedig reent nie, waar gaan veld vandaan kom om die diere te voed?  Wat ‘n groot ramp!  Droë stompe het vir dae daarna nog gesmeul in die wind.

Dit egter is nou alles verby en wat oorbly herinner aan ‘n toneel uit ‘n Sci Fic film.  Danksy bekendes en onbekendes wat kom help het met die vuur op ons lappie grond, is dit wat belangrik was gespaar.  Ek wil dus graag deur middel van hierdie skrywe, my dank en waardering, namens my en my gesin oordra aan die persone wat gehelp en ons bygestaan het. Ons bure Johan Grobler en sy seuns en vriende.  Die Scheepers gesin en veral hul seun Dries. Nog ‘n buurman Johan van Rooy en die helikopter span en die Brandbestryders van Vaalwater.  Ons waardeer jul hulp en ondersteuning deur ‘n krisistyd.

Marie Janse van Vuuren – Groothoek