Plaaslike geneesheer gesels oor beroertes

THABAZIMBI – ‘n Praatjie oor beroertes is verlede Woensdag, 6 Oktober, deur dokter Pieter de Kock aan die bejaardes van Bosveldoord en omringende dele gelewer terwyl hy daarmee saam ook enkele mites oor die toestand uitgeklaar het.

Volgens dokter de Kock is ‘n beroerte ‘n lastige toestand wat grootliks deur genetika bepaal word en nie omdat hulle juis verkeerd lewe nie.

‘n Beroerte kom voor wanneer bloedvloei na die brein onderbreek word, en breinweefsel ontneem word van suurstof en voedsel. Binne etlike minute begin breinselle dan doodgaan, wat dit ‘n mediese noodgeval maak. Uiters vinnige behandeling kan die verskil tussen lewe en dood beteken, en vroegtydige behandeling kan ook die skade aan die brein en ongeskiktheid verminder. Simptome sluit in: skielike lamheid, swakheid, of verlamming van die gesig, arm of been gewoonlik net aan een kant van die liggaam. Met veroudering verhoog ‘n persoon se kanse op ‘n beroerte en hoë bloeddruk verhoog die risiko met vier tot ses keer. Kardiovaskulêre siektes, hartversaking of ‘n vorige hartaanval, aorta-hartklep siektes of klepvervangings en arterie fibrillasie (‘n onreëlmatige en vinnige hartklop) kan ook ‘n faktor wees. Ongesonde vlakke van bloedlipiede oftewel cholesterol, verhoog ook die gevaar van ‘n beroerte.

Volgens dokter de Kock is hartsiektes en beroertes die grootste oorsake van dood ter wêreld en eis ongeveer 17,1 miljoen lewens jaarliks. Hy beveel ‘n nie-rokende lewenstyl met gesonde eetgewoontes en fisieke aktiwiteit. Selfs ’n halfuur se oefening daagliks kan help om ’n hartaanval of beroerte te voorkom, en sal ook op werksvlak daarby baat vind. Besoek ’n gesondheidspraktisyn wat bloeddruk, cholesterol, glukosevlakke, middellyf-tot-heup-ratio en liggaamsmassa-indeks kan meet.

Sodra die nodige kennis oor moontlike gevaar faktore geïdentifiseer word, kan daarby bepaal word om die gevaarsone waar die rooiligte flikker weer in ‘n groen fase te verander. Ten laaste is dokter de Kock van mening dat ‘n beroerte nooit moes gebeur het nie en kon waarskynlik voorkom gewees het indien die betrokke persoon gereeld deur ‘n geneesheer ondersoek was wat die nodige behandeling kon aandui.