General

Kraglyne en weerlig blameer vir vernietigende brand

THABAZIMBI – Buiten die verwoestende veldbrand wat sedert Donderdag verlede week in die gebied tussen Thabazimbi, Alma en Vaalwater geheers het, het ‘n brand wat Saterdagaand 9 Oktober op die plotte regoor Marakele Nasionale Park se hoofingang ontstaan het, ‘n spoor van vernietiging nagelaat voordat dit Sondagmiddag omstreeks 16:00 onder beheer gebring is.

Twee persone is vir behandeling in Thabazimbi Medi-Clinic opgeneem nadat een deur die vuur vasgekeer is en die ander gehelp vlamme blus het. Mnr Deon von Czapiewski het tweedegraadse brandwonde oor 20% van sy liggaam opgedoen, maar is stabiel. Hy was vasgevang in die hoek van sy plot toe die wind ewe skielik gedraai het, en hy moes deur die vuur hardloop om van ‘n groter vuur af weg te kom. Die ander persoon, mnr Petrus van Breda, is vir rookinhaling behandel. Beide se toestand is stabiel.

Volgens ooggetuies het hulle die aand omstreeks 23:00 gesien hoe hoogspanningskragdrade as gevolg van die sterk wind wat gewaai het, teen mekaar raak en vonke gemaak het. Die vonke het die droë, ruie gras onder dit vermoedelik aan die brand gesteek. ‘n Ander vermoede is dat weerlig ‘n elektriese kas getref het en dat vonke uit die kas die veld aan die brand gesteek het.

Die droë veld en sterk winde het die brand vinnig laat versprei en teen 02:00 Sondagoggend het dit ‘n hoogtepunt bereik met vlamme wat hoër as 5m die lug ingeskiet het. Teen hierdie tyd is 14 plotte verwoes, maar geen huise het afgebrand nie. Twee store het egter in die brand in die slag gebly.

Die flink optrede van die Munisipaliteit se brandweer het ernstige skade aan huise en diereverlies tot die minimum beperk.