Dis cool om te care…

Die optoggangers met hul plakkate.

THABAZIMBI – Thabazimbiërs het op Loslitdag, Vrydag 3 September weer eens gewys hoe groot hul harte is, toe ‘n groot groep mense saamgespan het om Loslitdag ‘n reusesukses te maak en sommer ‘n groot bedrag in te samel vir X-treme Adventures 4 the Disabled.

X-treme Adventures is onlangs gestig as ‘n nie-winsgewende organisasie wat hulle beywer vir die bevordering van plaaslike gestremdes se saak. Die bestuur van die maatskappy, X-Treme Adventures, is onder die voorsitterskap van Petrus van Breda, self ‘n gestremde persoon. Hanlie van Rensburg (‘n baie bekende gesig in die dorp op haar rooi battery aangedrewe karretjie) is die vise-voorsitter en Windie van Breda is die sekretaresse met Evaline Putter wat die rol van tesourier vul. Die res van die komitee bestaan uit addisionele lede naamlik Ferdi Sauer, Lizanda Jacobs, Magda Moolman en Antoinette Deetlefs. Daar is sover vasgestel kon word 23 gestremde persone in Thabazimbi. Die komitee is egter seker dat daar veel meer in die omgewing is. Meer as R18 000 is ingesamel tydens aksies wat Vrydag heeldag geduur het, asook van borge.

Supermarkte en winkelkomplekse se parkering vir gestremdes is Vrydag beset deur lede van X-treme Adventures en hul ondersteuners. Blikkies is gewaai en geswaai en niemand het weggekom sonder om ‘n bydrae te maak nie.

Die groothartigheid van Thabazimbiërs was duidelik te siene tydens Loslitdag. Supermarkte het kospakke beskikbaar gestel wat uitgeloot is, besighede het T-hemde gekoop ter ondersteuning van X-treme Adventures en borge het help betaal vir die maak van die T-hemde.

Die simboliek agter die besetting van die parkering het ook nie verlore gegaan nie. Thabazimbi se gestremdes het standpunt ingeneem teen diegene wat hierdie parkering gebruik vir hulle eie gerief, in plaas daarvan om dit oop te laat vir die doel waarvoor dit bedoel is. Hierdie parkering mag nie deur ‘n voertuig beset word sonder ‘n windskermplakker wat aandui dat die insittende ‘n gestremde is nie.

Kort na middagete is daar ‘n plakkaatoptog deur Thabazimbi se middestad gehou onder die begeleiding van verkeersbeamptes. Die optog het beweeg van Spar tot by Standard Bank, verby die lisensiekantore tot by Thaba Park en terug na Spar.

Dit bly verstommend hoe baie gestremdes daar in ‘n relatiewe klein dorp soos Thabazimbi woon – ten spyte daarvan dat nie naastenby almal die optog meegemaak het nie.

Drie nie-gestremdes van Thabazimbi het ingestem om Vrydag in ‘n rolstoel deur te bring. Hulle was Hannes Coetzee van Spar, JJ Durand van Pick n Pay en Colin Campbell, HFM skoolhoof. Campbell het gesê die ondervinding het hom groot deernis en begrip gegee vir diegene wat die wêreld uit daardie ongemaklike posisie moet uitleef. Hy versoek dat almal die lewe probeer makliker maak vir “ons Loslitvriende”. Hannes Coetzee en Bokkie Groenewald van Spar het beide die optog deur die dorp in ‘n rolstoel deurgemaak.

Lede van X-treme Adventures het Vrydag versoek dat kennis geneem word deur owerhede, besighede en Jan Publiek van die behoeftes van gestremdes.

X-Treme Adventures beoog om noodsaaklike hulpmiddels aan gestremdes te verskaf. Die feit dat die maatskappy deur ‘n span jong en energieke mense gelei word voorspel net mooi dinge vir die toekoms. Hulle gaan beslis ook petisies optrek in ‘n poging om die dorp in geheel meer gestremd vriendelik te maak.

En aan diegene wat volhard om op daardie geel parkeerplek waarop ‘n rolstoel geverf is te parkeer, onthou die gesegde “But for the Grace of God, there go I…”

Hennie Pauw