Thabazimbi Gholfnuus

THABAZIMBI – Verlede Saterdag is daar toe IPS gespeel. Nita Barnard wen met 39 punte. Jannie van Graan (38) en Jakkie van der Wateren (35) was die ander pryswenners. Die maandelikse Slagspel gaan nou op Saterdag 11 September gespeel word. Die Tjokkerskool van Laerskool Thabazimbi hou op Saterdag 18 September ‘n groot borgdag. Die formaat gaan ‘n volle “American Scramble” wees. Die formaat gee altyd vir die beginner ook die geleentheid om die spel te geniet.

Een van die klub se jong sterre, Heinrich Penzhorn, het reeds sy Gauteng Noord kleure as onder 12 gholfspeler verwerf. Hy is dan nou ook een van ses jong spelers wat in die komende vakansie aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op die Clovelly baan in die Kaap gaan deelneem. Dit is ‘n besondere prestasie vir so’n jong speler en die klub wil hom net alle sukses toewens. Ons weet hy gaan Thabazimbi se naam hoog hou.

Die grasie wat toegelaat word vir die betaal van jaargeld teen die ou bedrag geld net tot die einde van September. Lede moet asseblief kennis neem daarvan, want  jou voorgeekaart kan geblokkeer (Hotcard) word as die ledegeld nie betaal word nie. Dit kan net tot verleentheid en onnodige onaangenaamheid lei as jy dalk op ‘n ander baan wil gaan speel.